Efesiërs 4: 11-13

So het Christus self die apostels, die profete, die evangeliste, die herders en leraars gegee om sy volk toe te rus vir dienswerk, sodat die liggaam van Christus opgebou kan word… (Ef 4: 13a, AFR2020).

Dis nou maar wors: die Kerk is soort van ’n spansport. En soos enige goeie span, het ons posisies. Sommige mense is die afrigters (dominees), ander is die entoesiastiese spelers (evangeliste), en dan is daar daardie een wat altyd peuselhappies na Bybelstudie toe bring.

In ons teks skuif Paulus die gordyn weg as hy na die Kerk verwys. Hy praat van apostels, profete, evangeliste, herders en leraars. Maar hier is die wending in die plot – hulle is nie die HELE Kerk nie. Nee. Hulle is die toerusters, nié die wat alles doen nie.

Sien, God het leiers aan die Kerk gegee, nie om in die kollig te wees of met geestelike klipborde rond te loop nie, maar om al die ander toe te rus vir dienswerk. Met ander woorde, Kerk is nie ’n eenmanvertoning nie – dit is all-hands-on-deck. Die doel van Kerk is nie ’n bekende dominee of pastoor met ’n gevolg nie. Nee, Kerk is ’n liggaam van gelowiges wat sterk, volwasse en verenig is in geloof. (Dink minder fan club en meer geestelike bedienaars.)

En voor jy begin dink, Wel, ek is nie ’n leier nie, hou vas jou matras, want God se idee van leierskap in die Kerk is nie net om in ’n toga te preek nie. God dek die tafel vir ander om te groei. En Hy rus elkeen toe met sy eie spesifieke gawes.

Of jy nou voor in die ry staan, sigbaar besig om te onderrig en of jy agter die skerms besig is om koffie met liefde en entoesiasme te maak, leierskap vind plaas. God rus ons almal toe om sy uitverkore volk te wees sodat ons (geestelik gesproke) groot kan word en ’n liggaam kan wees wat nie oor sy eie voete struikel nie.

Ds Dawie Jacobs, Emeritus