Psalm 143: 8;  Genesis 19: 27

Psalm 143: 8 lees: Laat my elke môre u liefde ondervind, want in U stel ek my vertroue. Wys my die pad wat ek moet loop, want my hoop is op U gevestig.

In sy boek Life Together reflekteer die teoloog Dietrich Bonhoeffer oor die oggendroetine van verskeie Bybelkarakters. Bonhoeffer merk op dat Abraham, Jakob, Moses en Josua almal oggendroetines gehad het ten einde tyd met God deur te bring. In Genesis 19: 27 lees ons: Daardie oggend het Abraham vroeg opgestaan en na die plek toe gegaan waar hy in die teenwoordigheid van die Here gestaan het.

Markus 1: 35 vertel ons dat Jesus self dikwels vroeg in die oggend tyd met God spandeer het. Ons lees: Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na ’n eensame plek en daar gebid. Die manier hoe jy jou dag begin skep die toonaard vir die res van die dag.

In die fliek Coming to America het Eddie Murphy die rol vertolk van ’n kroonprins van Afrika wat deur Amerika reis. Elke oggend in Amerika het hy vroegdag uitbasuin: Life, real life! A thing that we have been denied for far too long. Good morning, my neighbours!

In die verskillende seisoene van mens se lewe wissel wakkerwordroetine en -ervarings. Met klein kinders in die huis begin dit dikwels met ’n gehuil, en in die middeljare word mens dalk soggens bewus van ’n skeet of pyn. Tans hoor ek soggens eerste die die hadidas in ons tuin. Maar een ding is seker: die beste manier om enige dag te begin is in God se stilte en teenwoordigheid! Daarom staan daar ook in Psalm 57: 9 ek wil vroeg opstaan, met harp en lier wil ek die rooidag wakker maak!

Mag jy God elke oggend ontmoet met harp en lier!

Gesang 153: 2:

Verlig ons deur U lering,

Ons vind dit in U woord.

Ons volg U deur bekering-

Ons wat aan U behoort.

Ds Lydia Miller, Villiers