Matteus 8: 23-27
Die storm op die see kan ook simbolies wees van die onstuimighede in ons lewe. Elkeen van ons kan getuig van die een of ander storm wat ons al in die lewe moes trotseer en daar wag ongetwyfeld nog verdere stormweer in die toekoms op ons. Besluite of gebeure wat dreig om jou menswees te vernietig. Ons kan, soos die dissipels, dadelik en eerste aan onsself dink: Ons vergaan! Wanneer jy as sondaarmens eerste aan jouself dink, kan dit maklik gebeur dat jy bang en selfs kleingelowig raak: Hoekom doen die Here dan niks? Hoekom laat Hy hierdie stormgeweld toe? Hoekom nou? Is Hy dan nie meer lief vir my nie? Gaan Hy my nie red nie? Hoekom slaap Hy terwyl ’n storm om my woed?
Reg deur die Bybel lees ons hoe die storms van die lewe gedreig het om mense se skuitjies om te gooi. Eintlik elke moontlike Bybelse figuur: Eva, Abraham, Moses, Josef, Rut, Samuel, Jeremia, Dawid, Job, die dissipels, Elizabeth, Maria, Paulus, Petrus, Johannes en soveel ander. Ons lees en leer dat storms deel is van die mens se bestaan op hierdie sondige en gebroke aarde. Storms is dus ’n realiteit! Ons kan die meeste daarvan nie verhoed of systap nie. Ons het in die verlede, ons is moontlik tans besig, en ons sal in die toekoms storms in ons lewe hier op aarde ervaar.
Die vraag is dus: Hoe behoort ons in die storms van ons lewe op te tree? Die dissipels in ons verhaal onthou dat Jesus daar saam met hulle in die skuitjie is. Hul eerste reaksie is dié van verwyt: Hoe kan Hy in hul donkerste uur slaap? Hoekom doen Hy dan niks? Gee Hy nie om dat hulle vergaan nie? Ons leer uit hierdie verhaal dat God altyd in ons storms teenwoordig is. Hy is daar! Anders as die dissipels behoort ons fokus van die storm na God te skuif. In die storm is dit my roeping om op God gefokus te lewe.
God maak die storm stil. Daar is weer vrede en rustigheid. Ons kan elkeen uit die verlede getuig dat God die storms in ons lewe stilgemaak het. Natuurlik altyd op sy tyd, plek en manier.
Dr Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein / SGB Interimbegeleiding