Eksodus 17: 8-16

Israel is onlangs uit Egipte bevry. Hulle was slawe en is nie opgelei of gerat vir oorlog nie. Die Amalekiete was nomades wat afgestam het van Esau se kleinseun, Amalek. Hulle val aan sonder provokasie. Ons kry vir die eerste keer met Josua te doen wat manne moet kies en veg terwyl Moses op die heuwel staan met sy staf waardeur God soveel wonderwerke in Egipte laat gebeur het, en toekyk.

Solank as wat Moses sy hande in die lug hou kry Israel die oorhand oor die geveg, maar sodra hy sy arms laat sak word die Amalekiete sterker. Die gevel hang dus nie af van die Israeliete se moed, durf of vegtalent nie, maar van hul geloof in God, hul gehoorsaamheid aan God en van God se mag.

Wat sê dit van ons eie gevegte? Die oplossing van al ons eie gevegte lê daarin dat ons nie in toewyding aan die Here moet verslap nie.

Moses se opgeligte hande wys op gebed, lof en afhanklikheid van God. Aaron en Hur help Moses om sy arms in die lug te bly hou totdat die Israeliete die veldslag gewen het. Dit wys daarop dat ons mekaar nodig het selfs in ons geestelike roeping en worstelinge. Deur spanwerk en gemeenskap word probleme en vyande teruggedryf. Ons moet ook leer om te praat en te sê wanneer ons arms te moeg raak om langer self in die lug te hou. Saam is ons eenvoudig sterker.

Moses bou ’n altaar vir die Here en noem dit Jhwe-Nssi (Die Here is my banier) Dit wys op God se beskerming en heerskappy en dat Hy hul identiteit is. Dit wys ook op oorwinning en dat God ons in alle omstandighede lei.

Ds Aniena Jansen van Rensburg, Leeudoringstad