Handelinge 5: 17-32
In Handelinge 5 staan die apostels vir die tweede keer voor die Joodse Raad. Hulle word verbied om oor Jesus te praat. Maar tog sien ons dat hulle, ten spyte van die feit dat hierdie raad magtig en wreed was, steeds antwoord met die woorde:
Ons moet eerder gehoorsaam wees aan God as aan mense.
Die apostels het nie getuig omdat hulle sonder vrees was nie, maar omdat hulle deur die Heilige Gees versterk was, en omdat hulle dit saam gedoen het.
Ons geloof is nie iets wat ons alleen hoef aan te pak nie. Ons het mekaar nodig. Baie keer kry ons dit dat die wêreld ons wil stil maak, maar dan het ons mekaar nodig om mekaar te bemoedig. Ons het mekaar nodig om by mekaar moed te skep wanneer ons getuienis ongemaklik, swaer of selfs alleen word. Dit is in ’n gemeenskap van gelowiges waar ons mekaar kan herinner aan wie ons behoort en waar ons krag vandaan kom.
Die mense van die vroeë kerk het hierdie krag geken. Hulle het nie net saam gebid en saam gedeel nie, hulle het ook saam getuig. Wanneer die een moeg geword het, het die ander opgedaag. Wanneer hulle vrese groter geword het, het die liefde en ondersteuning van die ander gelowiges weer nuwe moed gebring.
Net soos die apostels is ons vandag ook geroep om nie stil te bly nie – nie net elkeen op ons eie nie – maar saam as liggaam van Christus. Saam dra ons die Lig van Jesus Christus na die donker wêreld toe. Saam herinner ons mekaar dat ons gehoorsaamheid aan God groter is as ons vrees vir mense.
Mag ons in ons geloofsgemeenskappe geleenthede skep waar mense toegerus word om met vrymoedigheid te kan sê: Ek kies die Here bo mense! Mag ons in ons geloofsgemeenskappe ruimtes skep waar ons ons geloof kan deel en versterk. Mag ons mense wees wat nie meer stilbly nie – nie omdat ons altyd gaan dapper wees nie, maar omdat Christus ons deur sy Gees saambind.
Ds Drian Cockeran, Bronkhorstspruit