Galasiërs 5: 26

Ons moenie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar afgunstig wees nie (Gal 5: 26).

Hoe voel jy wanneer iemand meer guns as jy ontvang? Gun jy daardie persoon die nuwe motor of die vakansie of selfs die bevordering by die werk? Of vlam daar afguns en jaloesie in jou hart op? Ons doen dit nie noodwendig eers met opset nie.

Maar as ons weer sien, het die groenoogmonster kom nes skrop in ons midde. Wanneer ons die woord jaloesie gebruik, gebruik ons dit in die sin van afgunstig wees of iemand besit iets wat ons nie het nie. Ons kan soms dae, selfs weke lank met hierdie afgunstige pynsteke in ons harte rondloop. Hierdie soort jaloesie is sonde en is nie kenmerkend van ’n Christen nie, want dit kan tot afbrekende gedrag teenoor onskuldige mense lei.

Hierdie vers in Galasiërs 5 vra van ons om onsself te ondersoek, sodat ons in hierdie tyd van die kerklike jaar geestelik kan groei. Soms het ’n mens nodig om doelbewus ons fokus te verskuif, om ander mense, dit wat hulle het of kry, te gun sonder om lelik te wees as hulle dinge het wat ons nie het nie. As ons leer om ander te dien in plaas van onsself sal ons harte begin verander, want om jaloers te wees, dui aan dat ons nie tevrede is met dit wat God vir ons gegee het nie. Ons is besig om ander se seëninge te tel in plaas van ons eie. Die Bybel leer ons om tevrede te wees met wat ons het, want God sal ons nooit verlaat of in die steek laat nie.

Ons moet die Here toelaat om vir ons te wys presies hoe gevaarlik jaloesie en afguns is. Om jaloesie teë te werk, moet ons meer soos Jesus word en minder soos onsself. Ons moet bid dat God ons help om ander mense goeie guns te gun.

Ds Yolandé de Lange, El-Flora