1 Tessalonisense 5: 18
Hoeveel keer op ’n dag sê jy dankie?
Maak ons elke dag tyd om dankie te sê? In ons gejaagde lewe vergeet ons soms van die krag van dankbaarheid. Tog herinner die Bybel ons dat dankbaarheid ’n sleutel is tot vreugde. In 1 Tessalonisense 5: 18 lees ons: Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. Hierdie vers nooi ons uit om dankbaarheid ’n daaglikse praktyk in ons lewe te maak.
Dankbaarheid begin met die erkenning dat elke goeie gawe van God af kom. Al bestaan daar moeilike tye help dankbaarheid ons om self in moeilike tye die hand van God raak te sien.
Om ’n lewe van dankbaarheid te lei, vra van ons om klein dinge raak te sien – die son wat in die oggend opkom, die glimlag van ’n vriend, selfs die geskenk van ’n nuwe dag. Neem dan vandag ’n oomblik om ’n lys te maak van dinge waarvoor jy dankbaar is.
Dankbaarheid is meer as net ’n gevoel: dankbaarheid is ’n keuse en ’n daaglikse ingesteldheid. Wanneer ons daagliks kies om met dankbare harte te lewe, weerspieël ons God se liefde en wys ons aan die wêreld die vreugde van ’n lewe in Christus.
Lees gerus Gesang 552: Liewe Vader, ek sê dankie.
Liewe Vader, ek sê dankie.
Liewe Vader, ek sê dankie
vir die wêreld rondom my:
want die hemel en die aarde
het ons als van U gekry.
Liewe Vader, ek sê dankie
Vir die lewe rondom my:
Al die blomme en die diere
het hul prag van U gekry.
Liewe Vader, ek sê dankie
vir die mense rondom my:
al my maatjies en familie
wat in liefde by my bly.
Liewe Vader, ek sê dankie
dat ek soveel van U kry:
maar die grootste is u liefde
wat ook in my hart kom bly
Dr Antionette Janse van Rensburg, Universiteit van Pretoria / Montana