Matteus 5: 1-12
Ons het gister begin lees aan Jesus se bergprediking en gesien dat dit vandag nog relevant is. Vandag kyk ons na nog ’n alledaagse probleem en wat ons daaroor by Jesus kan leer.
In vers 6 lees ons dat ons honger en dors moet wees na dit wat reg is. As ek sien iets loop verkeerd wil ek hê dit moet reggestel word net soos wat ek ’n behoefte het om versadig te word as ek honger is. Nou moet ons mooi na Jesus luister. As Hy praat van honger en dors na wat reg is, dan praat Hy veral oor ons verhoudings – verhoudings wat moet reg wees. Ons moet mekaar reg behandel, die Here het ons immers na sy beeld geskape!
Gestel ek en my broer kom nie oor die weg nie. Vandat ons kinders was, vryf ons mekaar verkeerd op. Nou doen hy iets waarmee ek nie saamstem nie. Ek praat met hom daaroor, want ek weet ek is reg. Hierdie gesprekke eindig dan altyd in ’n groot argument. Dis nie lekker nie! Is ons dan honger en dors na wat reg is? Nou het ek ’n belangrike keuse: Wil ek altyd reg wees of wil ek ’n verhouding met my broer hê? Ek kan nie altwee gelyk hê nie. Ek moet kies, dis of die een of die ander. Nou kies ek miskien om hom nié altyd te korrigeer en altyd te kritiseer nie. My liewe broer, ek kan nie jou lewe vir jou leef nie, maar ek gaan vir jou lief wees. Ek gaan nie die eie-ek vertroetel nie, maar jou eerder raaksien as kind van God. Dis mos wat Jesus van my vra!
Gebed
Here, in plaas daarvan om altyd reg te wil wees, wil ek vandag eerder doen wat reg is. Ek gaan vandag probeer om nie te kritiseer nie en nie my standpunt af te dwing nie, maar eerder net lief te hê. Ek is honger en dors na wat reg is en daarom is ek oop om dit te ontvang. Amen.
Ds Pieter Rossouw, Mafeking / Zeerust