In die brief aan die Filippense vermaan Paulus en Timoteus ons: Wees altyd bly! Ek herhaal: Wees bly!

Maar hóé, Paulus, hóé?

Ek luister en kyk na alles wat om my gebeur, en ek wonder hoe ek dit nog durf waag om vreugde te ervaar.

Op 16 November berig Beeld oor ’n 56-jarige ouma wat in haar motor by ’n verkeerslig in Johannesburg doodgeskiet en uit haar motor gesmyt word.

Rapport skryf op 17 November oor twee jong mans wat drie bejaarde vroue in onderskeidelik Springs, Mbombela en Alberton kort na mekaar vermoor omdat hulle (die mans) glo “behoeftig” is.

’n Jong Randfonteinse meisie, in haar skoolklere, vloek ’n jong skoolseun en rand hom aan ten aanskoue van ander leerders wat ongeërg toekyk (Rapport, 17 November).

’n Ontevrede klant skiet ’n motorhandelaar in Klerksdorp dood en wond twee ander mense (Beeld, 12 November).

Woedende inwoners van Bakerville naby Lichtenburg stenig ’n verdagte in ’n rooftog by ’n snoepwinkel en steek sy voertuig aan die brand (Beeld, 5 November).

’n 35-jarige man wat toevallig verby ’n gewapende rooftog naby Brits ry, word deur die rowers in die gesig geskiet (Beeld, 5 November).

Die (dronk) bestuurder van ’n bakkie verloor beheer oor die voertuig naby Groblersdal. Die bakkie rol verskeie kere, en vyf hoërskoolleerlinge word uitgeslinger en sterf op die toneel (Beeld, 8 November).

’n Wettelose jaagduiwel ry ’n kameelperd dood in die Krugerwildtuin, en ’n ander een ry ’n hiënawelpie se rug af. In eersgenoemde ongeluk word ’n Switserse toeris ernstig beseer toe die kameelperd op sy gehuurde safarivoertuig beland; die toeris sterf later (Beeld, 14 November).

In Potchefstroom word minstens nege honde vergiftig deur voornemende inbrekers (Beeld, 14 November).

In Springs word ’n 18-jarige man tot 17 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy sy 19-jarige stiefsuster vermoor het deur haar 12 keer met ’n mes te steek (Beeld, 15 November).

Op 1 Desember berig Maroela Media oor ’n 26-jarige vrou wat ernstig beseer is toe ’n klip op 30 November deur haar motor se ruit gegooi is terwyl sy op die N1 naby Bellville gery het. ’n 56-jarige onderwyseres is die oggend van 28 November op dieselfde snelweg tussen Kaapstad en die Paarl dood nadat ’n stuk beton na die motor waarin sy en haar man gereis het, geslinger is.

Maroela Media berig ook op 1 Desember oor ’n man en vrou op ’n tandemfiets wat op 30 November deur ’n taxi getref is in Isando aan die Gautengse Oos-Rand. Die vrou, die adjunkhoof van ’n plaaslike hoërskool, word op die toneel dood verklaar, en die man met sy aankoms by die hospitaal.

’n 46-jarige musiekonderwyser is verlam nadat hy in die laaste week van November in ’n hoewe-aanval in Bapsfontein geskiet is (Maroela Media, 30 November).

Dus vra ek weer: Mag ek nog bly wees? Waaroor moet ek bly wees? Oor die goeie goed wat mense tog nog elders doen? Filantrope wat geld aan welsynsorgaisasies én rugbyklubs skenk? ’n Vrou wat via sosiale media haar peperduur trouring terugkry nadat dit by ’n restaurant van haar vinger afgegly het? Suid-Afrika wat die William Webb Ellis-trofee huis toe gebring het?

Ja, seker.

Intussen kry ons nuus oor ’n huisvriend wat dood aangetref word minute nadat ons met hom oor die foon gepraat het; waarskynlik was dit ’n hartaanval. Sondag in die kerk verneem ons dat die babatjie wat met ’n hartdefek gebore is en verbete geveg het om te bly lewe, na ’n bietjie meer as ’n maand gesterf het. Moedelose boere sien geen uitkoms nie en neem hul eie lewe.

Oral om ons heers middelmatigheid: swak diens, swak werk, belangelose werkers, oneerlike polisielede, korrupte staatslui…

Maar dan besef ek, eintlik sê Paulus en Timoteus mos: Wees altyd bly in die Here! … Die Here is naby. En vir die Galasiërs benadruk Paulus dat vreugde ’n vrug van die Gees is:  Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.

So ja, ek mág bly wees. Oor vrede in my lewe, en geliefdes vir wie ek baie omgee. Oor die vooruitsig van ’n nuwe dag, ’n nuwe lewensjaar. Oor uitmuntendheid wat tog ook plek-plek skitter. Oor mense met integriteit wie se goeie eienskappe en waardesisteme werklik geïntegreer is.

Daarom sal ek saam met Habakuk juig:

Al sou die reën nie kom nie,
en die bek-en-klouseer ons inkomste vernietig;
al sou die mielieoes misluk;
al sou misdadigers die woonbuurt oorneem,
en geen teenmag meer weerstand bied nie;
al sou al ons boeke verbrand word
en masjiene ons lewens oorneem;
al sou ons kinders reddeloos voor vreemde skole staan,
en daar geen werkgeleenthede meer wees nie;
al sou ons taal stil word
en ons sogenaamde leiers ons faal;
al sou alle kos te duur word
en ons dokters na ander lande vlug –

nogtans sal ek jubel,
sal ek juig in God, my Redder.
Die Here my God gee vir my krag.
Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok,
op hoë plekke laat Hy my veilig loop.

af
af
Deel met behulp van
Copy link