Die Dunning-Kruger-effek is ’n kognitiewe vooroordeel wat beskryf hoe individue met beperkte kennis hulle eie vermoëns oorskat.

As jong predikant was dit my strewe om alles wat op my tafel land, of dit die Kerk se administratiewe uitdagings, die lewensverhale van lidmate – positief of negatief – of vakwetenskaplike inligting was, ten volle onder die knie te kry. Die oomblik wanneer verhale of inligting sin gemaak het, kon ek dit inneem en my eie maak. Wat bekend is, word bemind, en wat verstaanbaar is, word dalk beheerbaar.

Die jare het my geleer dat sekere dinge nooit volledig verstaan kan word nie. Mense se verhale daal byvoorbeeld na dieptes waar ons beperkte woordeskat nie meer voldoende is om begrip te toon of die een wat na hulp smag, aan te raak nie. Ongeag hoe geletterd of gevorderd in jare én wysheid ons ook al is, daar bestaan geheimenisse wat nooit volledig oopgebreek kan word nie. Op ons beste kan ons slegs daaroor verleë staan.

Die Duitse teoloog Rudolf Otto het hierdie beperkte verstaan gekoppel aan die kompleksiteit van God se wese. Hy het die begrip Ganz Andere gebruik om sy eie beperkte begrip te beskryf. Ná hom het die bekende Karl Barth dikwels daarna verwys. Ganz Andere: Een wat nie met beperkte woordeskat en wetenskaplike metodes volledig omskryf of verklaar kan word nie; een wie se diepte nooit bepaal kan word met menslike gereedskap nie. Barth sê ons kan God se genade nooit bereken of volledig beredeneer nie. Die geheim is dat God, onverdiend, ons vriend en ons broer geword het. Die geheim word nie noodwendig volledig oopgevlek nie, dit word gerespekteer. Selfs na deeglike navorsing en eksegese bly die misterie van God se genade bestaan.

Hierdie ganse andersheid van God word treffend deur die apostel Paulus saamgevat wanneer hy skryf: O, diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurbaar sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken? Of wie het as sy raadsman opgetree? Of wie het eers gawes aan Hom gegee, vir wie Hy dit sou moes vergoed? (Rom 11: 33-35, AFR2020).

Die aanhaling uit Paulus se doksologie of lofprysing dui daarop dat mense se kennis van God se persoon, sy handelinge en sy betrokkenheid by ons lewens, beperk is. Ons ken maar ten dele. René Descartes het gesê dat eindige wesens soos ons die oneindige God kan waarneem, maar nooit sy volle oneindigheid nie. Dit is dus gepas om beskeie te wees.

Met ons gedeeltelike kennis staan ons dan soms verstom oor die dinge wat op ons pad kom, of die verwagtinge wat ons koester wat nie altyd realiseer nie. Wanneer ons terug kyk oor ’n jaar wat verloop het, soos wat ons tipies in hierdie dae doen, ’n jaar met ware uitdagings, gevoelige slae en vreemde gebeure wat nie altyd bevredigend verklaar kan word nie, maar tog ’n diepgaande uitwerking op ons lewe gehad het, is gewoon om hierdie gevoel van onvolledigheid en gedeeltelikheid te beliggaam.Ons verstaan nie altyd waarom die lewe verloop soos dit verloop nie. Ons verstaan nie altyd dat die Here is wie die Here is nie. Hierdie beperkte vermoë gee inhoud aan die term Ganz Andere.

Ons bevind ons voorts, aldus die kerklike jaar, in die tyd waarin ons gereedmaak om die geboorte van ons Here Jesus Christus te vier. Die gans Andere wat gans anders opgetree het deurdat Hy ons wêreld met hoop, lig en liefde betree het. Ons verstaan die geboortetoneel en ken dit van kindsbeen af goed: die krip, herders, sterrekykers, moeder en vader. Ons verstaan die besonderhede wat in die evangelies vir ons geskets word redelik goed. Ons begrip blý nietemin beperk. Dit kan nooit die volle omvang en die diepte van God se liefde deur Jesus Christus vasvang in menslike begrippe en woorde nie. Ons kan daarom en om ander redes nie anders as om na die geboorte van ons Here Jesus te verwys as ’n misterie nie. Die heerlike hiervan is dat ons sonder twyfel kan sê daar skuil meer agter die geboorte as wat ons weet. Daar is groter inhoud en betekenis daarin.

Ons nader die Advent- en Kerstyd met die wete dat ons steeds maar net aan die oppervlakte van God se wese raak. Die geboorte van Jesus  en alles wat ons daarvan weet, kan nooit die volle omvang van God se genade beskryf nie. Kom ons deel in die opgewondenheid dat daar soveel meer is om te ontdek en ontgin. Ons kan in hierdie dae ons eenvoudig oorgee aan die vrede wat daarmee gepaardgaan.

’n Onbekende skrywer het na aanleiding van Efesiërs 3: 18 en 19 geskryf: Om die breedte en lengte en diepte en hoogte te leer ken, die volle liefde van Christus, is om ’n roos te sien oopgaan in die oggendson. Vra jy vir iemand hoe dit gebeur, is die antwoord: ‘Die roos is gebore in die lig en die lug, uit die wortels en die grond, uit die sap en die blare.’

Vra jy ook: Wie sorg vir die lig en die lug, die wortels en die grond, die sap en die blare?, is die antwoord: God en God alleen. Wie meer vra, vra dalk te veel. Dit is ’n misterie wat ons ervaar in die heerlikheid van gebed en bepeinsing, ’n gewaarwording van ’n soet geur, soos die van ’n roos.