Saterdag 25 Julie 2020. Nadat ek vir drie dae na mekaar kouekoors ervaar het, het my vrou Johannie, en Nelmarie en ons skoonseun Christiaan my na die hospitaal geneem.

Ek was baie swak en is dadelik opgeneem in ’n geslote kubuskamertjie met net ’n deur waar verpleegpersoneel en die dokter ingekom het. Verder bo en rondom toe met glas. Ek kon alles in die saal sien en hoor. Daar was ’n hele aantal Covid-pasiënte.

Dit was ’n baie stresvolle tyd. Johannie is die Maandag ook positief gediagnoseer, ’n kollega, ds Paul Jooste, wat ek goed geken het,  het na net ’n paar dae as gevolg van Covid in ’n ander hospitaal gesterf. Dit het my erg ontstel. As ek en Johannie sterf, wat dan?

Gelukkig het ek ’n selfoon gehad en kon ek so op die hoogte bly van wat buite aangaan, en kon my vrou, kinders en vriende my bel om te hoor hoe dit gaan.

Ek was te swak om selfs die foon vas te hou of my tande te borsel. Om te eet, was ’n straf. Ontbyt was goed, middagete koud en onsmaaklik, aandete baie beter met jellie en vla wat ek baie geniet het. Soms was ek nie lus om te eet nie, dan is die hele plastiekbak met al die kos net so in ’n asblik gegooi. Geen item verlaat die saal nie, behalwe in die plastieksak in die asblik.

Soggens om vyfuur word die ligte aangeskakel en word jy gewas. Die verpleegster gee jou twee inspuitings op jou maag, elke oggend en aand, om bloedklonte te verhoed. Medikasie word elke oggend en aand uitgedeel. Die hele hospitaal funksioneer soos ’n fabriek.

Johannie het gelukkig baie gou tuis herstel. Ek het voortdurend suurstof gekry, kortisoon en antibiotika deur middel van ’n drup aan die een arm, en die monitor wat jou pols, suurstof in jou bloed, ensovoorts, meet aan die ander arm. Die gevolg is dat ek die hele tyd net op my rug kon slaap.

Ek is na ’n paar dae na ’n ander area verskuif waar daar heelwat baie ernstige siek pasiënte was. ’n Hele paar het erge longprobleme gehad. Ek kon hoor hoe die verpleegsters hulle op die rug klop om te help om van die slym ontslae te raak.

Soms het die verpleegpersoneel die gordyn voor die beddens vinnig toegetrek. Dan het jy geweet daar is weer ’n sterfgeval. Ander kere weer as jy wakker word om vyfuur, merk jy op die bed langsaan is leeg en opgevou. Nog iemand het dit nie gemaak nie.

Hierdie smartvolle gebeure en die monitors se alarms wat skree, het my geweldig negatief beïnvloed. Die naweek na my opname het ek van die Vrydag tot die Sondagaand niks geslaap nie. My monitor het in rooi geskree en gewys my pols klop 150 slae per minuut. Dit alles het my emosionele kragte op breekpunt gehad. Die dokter het vir my genoem dat hy meer bekommerd is oor my emosionele toestand as my fisiese toestand. Hy wou my so gou moontlik skuif na ’n enkelkamer waar ek nie al die negatiewe dinge sou sien en hoor nie.

Die Sondagmiddag het my verpleegster gesien ek verkeer in erge angs. Sy het vir my kom sȇ: Meneer, my hart het al 220 geklop. Toe het ek vir die Here gesȇ: Dit is nog nie my tyd nie, dit is nog nie my tyd nie! Jy moet dit ook doen.

Daar lȇ ek, al 47 jaar predikant, en ’n verpleegster kom sȇ dit vir my! Ek besluit toe: Ek sal dit ook doen. Teen later die middag het ek kalmer geword, en die dokter vir ’n slaappil en iets vir my hart gevra. Vanaf die Maandag het ek beter geword.

Twee dinge moet ek hier noem: (1) Gedurende my tyd in die hospitaal en stepdown later, twee maande in isolasie, het ek meer vir myself gebid as ooit tevore. Ek het mos altyd vir ander mense gebid in hul nood en smart. Maar my gebede het altyd ook ander mense in die hospitaal en ganse wȇreld ingesluit. (2) Die Sondag na aandete, vra ek vir die verpleegster of sy vir my ’n toothpick sal bring. Sy vra toe: Wat is ’n “toothpick?” Ek noem dis ’n stokkie waarmee jy tussen jou tande kan krap. Toe lag sy en sȇ: Meneer kan dit nie sien nie, want ek dra ’n masker, maar ek het nie tande nie!

Dit is nou humor: ’n lag met ’n traan. Die Maandagoggend kom sy eerste na my toe en plaas ’n toothpick in my toiletsakkie.

Deurgaans het ek baie goeie verpleging ontvang. Die dokter het vir my genoem dat dit nie hy is wat my gesond dokter nie, maar die verpleegsters.

Dit was ’n blye en dankbare oomblik toe die dokter my na ongeveer drie weke meedeel dat ek nou negatief toets vir Covid. Maar met die behandelings en toetse is opgemerk dat daar iets met my hart makeer. Toe word ek na die intensiewesorgeenheid verskuif. Vooraf is ek gereinig van alle vlooie, luise, kieme, virusse en watter peste ook al. Hulle smeer ’n pienk vloeistof oor my hele lyf van nek tot heel onder om my totaal te onthaar. ’n Glaskis word oor my geplaas met die vervoer na die ander saal. Gelukkig ly ek nie aan kloustrofobie nie.

Na aandete ’n Woensdagaand word ek meegedeel dat ek die volgende oggend teater toe moet gaan vir ’n angiogram. Vandaar mag ek niks eet of drink nie. Teen tweeuur die nag word ek wakker gemaak om bloed te trek. Die uitslag moet later vir die dokter beskikbaar wees. Van daar af slaap ek nie. Ek lȇ geduldig en wag. Drie maal gedurende die Donderdag vra ek of die teatermense my nie vergeet het nie. Teen elfuur die Donderdagnag kom hulle my haal – 29 uur sonder ’n druppel water, en die suurstof op jou neus maak jou mond binne ’n minuut kurkdroog. Dit was ’n marteling.

Daar word vasgestel dat een aar by my hart vervang moet word. Maandagoggend agtuur word ek toe geopereer. Alles verloop genadiglik suksesvol. Die Donderdag moet ek weer teater toe vir ’n stent in ’n ander aar. Dus, driemaal in ’n week in die teater.

Die Covid-virus het toe ’n positiewe gevolg: Die probleem by my hart sou sekerlik daarna nie maklik opgespoor gewees het nie, met selfs die dood as ’n gevolg. Die hartdokter het genoem dat daardie betrokke aar bekend staan as die widow maker.

Op 16 September 2020 is ek na die stepdown naby ons huis geneem. Ek het baie goeie fisioterapie ontvang om weer self te kan loop, en oefeninge om my longe te ontwikkel, want die virus het dit beskadig. Steeds afhanklik van suurstof is ek op 25 September finaal ontslaan en kon ek dankbaar weer tuis wees. Altesaam twee maande in isolasie waartydens Johannie en soms die kinders een-een my die laaste drie weke kon besoek vir ’n halfuur lank.

Die mediese fonds het ’n elektriese suurstofmasjien en ’n suurstofbottel beskikbaar gestel. Vir twee maande lank het ek al die longoefeninge wat die terapeut voorgeskryf het, elke dag drie maal gedoen.

Vanaf die eerste Sondag in November het ek weer na my gemeente toe gery vir die erediens. Die suurstof het saamgegaan. My longe het heelwat herstel. Op Sondag 29 November het ek ’n spesiale dankdiens gehou om die Here te loof vir sy genade wat aan my betoon is en die versorging wat Hy in die hospitaal, deur dokters, verpleegsters en medikasie, beskik het. Groot dank aan drs Koning, Roos, Milela en die verpleegsters.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)