En daar bars die bom in ons huis toe mos nou ook … en dít net omdat ek sit en groente skil terwyl my beste vriendin en haar man kom koffie drink. Die aanklag teen my: Jy is altyd besig! Jy kan nie ontspan nie! Jy maak almal om jou gespanne! Jy’t nooit geleer om stil te sit nie!

As ek nou terugdink: Dit is nie iets nuuts nie en was eintlik nog maar altyd so – hierdie voortdurende besig-wees en nooit klaarkry of klaarmaak nie (hoe ánders as ek my lewe lank nog ’n onderwyseres is!). Ek is seker baie van julle kan ook maar met die volgende identifiseer…

Ek kan ’n hele dag lank huis skoonmaak, en binne ’n kwartier kan enige bekwame gesin dit laat lyk asof daar nie afgestof is sedert Republiekwording nie. Ek kan ure lank poleer en blinkvryf, en binne sekondes kan enige vierjarige wat die vreugde van modder ontdek het, die saak ontredder. Ek kan netjies bed opmaak, en môre moet dit weer opgemaak word! Ek kan in ’n marathon skottelgoed was, en kort voor lank is die borde weer vol eiergeel en tamatiesous. Ek kan badkamers opruim, boeke wegpak, vullismandjies leegmaak, speelgoed wegbêre, en ’n dag later (soms selfs minute later) kan niemand meer die verskil sien nie!

En skielik besef ek helder en duidelik: Dit is presies hoe Marta ook moes gevoel het. Marta wat altyd besig was, wie se werk nie klaargekry het nie, wat geïrriteerd was met haar suster Maria wat nie gehelp het met al die take in die huis nie, maar wat haarself die luukse toege-eien het om rustig by Jesus se voete te sit.

Hoe verlang ek tog nie ook na ’n bietjie terugsit en ontspan nie, na stilword en om net soos ’n Maria minder bekommerd te wees oor die alledaagse sleurwerkies, die tonne wasgoed en die dringende korrespondensie wat hanteer moet word!

Ek het soveel slim argumente vir my besig-wees…

Die eise is net te veel. Die moderne vrou hardloop regtig van die oggend tot die aand. Daarom moet ek verskoning maak by die basaarkomiteevergadering, die kinders se oueraand, die weeklikse Bybelstudie. Daarom kom ek ook nie meer so gereeld by my persoonlike stiltetyd uit nie.

Jesus het nog nooit kombuis- en huiswerk beoordeel nie. Wat Hy egter veroordeel, is ’n lewensbeplanning waarin daar nie vir Hom beplan word nie. Ons beplan sorgvuldig die gaarmaak van ’n driegangete, die uur se spinklas in die gim, die diens van die motor, die fondsinsamelingsfunksie by die skool … maar om die een of ander rede brand ons altyd op die dag van die Here vas met ’n ete wat  in kerktyd gekook moet word!  Om die een of ander rede “maak ons dit nie” na die Bybelstudiegeleentheid nie, ons “maak dit nie meer” ten opsigte van ons gebedslewe en binnekamer nie, want daar is altyd ietsie wat ons op vroegoggendtelevisie moet sien, daar is altyd ’n dingetjie om in die tuin te doen, daar is altyd ’n probleempie met die miere in die suikerpot, vetterigheid teen die muurteëls en die donsies op die mat.

Wat my en Marta se vrede versteur, is al daardie baie balle wat ons in die lug moet hou. Ons almal identifiseer goed met Marta – ons ís lief vir God, ons gló in Jesus Christus, ons dóén ons bes om om te sien na ons gesinne en getrou te wees in die kerk – maar tog word ons aandag afgetrek en ons kragte afgetrek deur so baie ander dinge dat ons nie meer kan fokus op ons verhouding met God nie! In ’n kultuur van besige skedules en nimmereindigende gejaag na produktiwiteit, is ons geneig om ons waarde te meet aan hoe besig ons is, hoe baie ons bereik het of hoe goed ons voldoen aan ander se verwagtinge.

My lewe lank probeer ek die vrou van Spreuke 31 volg. Niks is ooit te veel moeite nie en nagte as ander slaap, is gemaak vir al die ekstra take. Miskien het dit nou tyd geword dat ek ophou om net te hunker na Maria en haar “vredevolle”, rustige, kalm oomblikke aan die voete van die Here. Miskien is dit nou my tyd vir nuwe prioriteite. Tyd vir stiller word, stadiger word en slimmer word.

Jesus antwoord immers vir Marta as sy so kwaai kommentaar lewer oor haar rustige suster Maria: Maar Jesus antwoord haar: “Marta, Marta, jy is bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies…” (Luk 10: 41-42).

So, vriendinne, as my huis nie so skoon soos voorheen is nie, my yskas nie so vol van self voorafbereide geregte is nie, en my gesin nie altyd so georganiseer soos altyd is nie – spring maar in en help waar jy kan … en noem my Maria!

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

Sekretaris van die NHSV Hoofbestuur en predikantsvrou in Gemeente Marble Hall

af
af
Deel met behulp van
Copy link