Emeritaat, pensioen, aftrede. Dit beteken alles dieselfde. Dit bekruip jou soos ’n dief in die nag.

Ek het vir baie jare gedroom dat as ons op pensioen gaan, ek graag op ’n plek sou wou woon waar daar ’n vyeboom is, ’n vyeboom soos die Bybelse vyeboom. Onwillekeurig het ek die vyeboom verbind met rus en vrede. Daar onder die groot hartvormige blare sou ek lees en dink. My kleinkinders spelend om my, en my hond en katte wat op my voete slaap.

Ek lees die volgende oor ’n vyeboom: Die vyeboom hoort tot dieselfde familie as die moerbeiboom. In Palestina groei dit uitstekend. Die boom word 20 tot 30 meter hoog, het ’n krom stam en blink bas, terwyl sy takke in alle moontlike rigtings sprei. Die boom het groot, dik, hartvormige blare, so dig dat dit ’n blaredak vorm.

In Palestina dra die vyeboom drie keer per jaar vrugte. Die voorvye verskyn in Maart saam met die nuwe jaar se lote – ’n bewys dat die winter verby is.

Van die ou dae af, die Bybelse tyd, is genesende krag aan die vyevrug toegeken. Die hout van die vyeboom is veral vir offerhout gebruik. Die vyeboom as vrugteboom het in hoë eer gestaan en is dikwels saam met die olyfboom en die wingerdstok genoem. Om te woon onder wingerstok en vyeboom is ’n beeld waarmee die ideale toestand vir Israel voorgestel word. Die vyeboom is ook een van die sewe seëninge wat die heerlikheid van die Beloofde Land voorstel.

En toe…

My goeie man gaan op pensioen. Ons gaan woon en werk in Zambië. Hy sit sy predkantswerk voort – daarna, met die genade van die Here, vir nog 13 jaar in verskillende gemeentes van die Kerk.

Gedurende hierdie tyd sit ek toe nie onder ’n vyeboom nie. Ek gaan voort om die Here te dien in sy kerk en die wêreld. Ek besef in die diens van die Here gaan ’n mens nie op pensioen nie. Lewenslank in God se diens. Ek besef toe, almal wat in Jesus Christus glo, het ’n vyeboom. Ek het lankal ’n vyeboom. Hierdie vyeboom is altyd bo my, onder my, langs my, in my.

Daarna, tot nou toe, soos altyd, het die Here met my ’n pad geloop… ’n Rustigheid en vrede omvou my soos die eerste soet vrugte wat verskyn as die somer verby is. Hy is die genesende krag vir al my probleme. Voor Hom staan ek in hoë eer soos Israel van ouds. Ek woon in die ideale toestand van Israel. Ek het die wonderlike geleentheid en voorreg om saam met my man te werk vir die Here.

Deur die werking van die Heilige Gees dra ek vrugte en het ek geen bekommernis oor wintertye nie. Hy versorg my, snoei my, lei my nat, en ek loop weer uit, groei en bloei. Hy gee my al sy seëninge en beloftes dat ek eendag die heerlikheid van die Beloofde Land gaan ontvang.

Te alle tye kan ek saam met die profeet Habakuk uitroep dat selfs as die vyeboom nie bot nie, ek steeds in die Here sal jubel.

Saam met die digter van Gesang 306 kan ek sê: As ek nog hier moet lewe, beteken dit vir my dat ek vir Christus, vir sy kerk, nog langer diensbaar bly.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link