In Augustus 2020 het ’n negejarige seun, Binyamin Milt, in die grond van die Tempelberg ’n goue kraletjie ontdek wat bykans 3 000 jaar oud is.

Die siftingswerk op die Tempelberg is ’n projek wat gedurende 2004 begin het nadat ’n Moslemgroep tussen 1996 en 1999, sonder enige magtiging, sowat 9 000 ton grond van die Tempelheuwel uitgegrawe en in die Kidronvallei gaan stort het. Die projek word tans bestuur onder die beskerming van die Bar-Ilan Universiteit in die stad Ramat Gan, in die distrik van Tel Aviv.

Hierdie ongemagtigde optrede het nie net groot skade aan die heuwel veroorsaak nie, maar uiteraard ook ernstige skade aangebring aan navorsing oor die geskiedenis van die Tempelberg.

Sedert 2004 het meer as 200 000 professionele en amateurvrywilligers aan die projek deelgeneem om daardie gestorte grond letterlik korreltjie vir korreltjie te sif op soek na moontlike artefakte wat daarin vasgevang is. Tot dusver is reeds meer as 500 000 artefakte, waaronder 5 000 muntstukke, inskripsies, potskerwe, Egiptiese kultiese items en oorlogsbuit gevind.

Die kraletjie is in só ’n goeie toestand gevind dat die toesighouer by wie die seun die vonds gaan inhandig het, gedink het dat dié item ’n onderdeel is van die een of ander moderne voorwerp wat daar beland het. Hy het hom só misgis met die vonds dat hy nie eens die seun wat dit by hom ingehandig het, se naam gevra het nie.

Eers drie maande later het prof Gabrial Barkay die kraletjie geïdentifiseer aan die hand van soortgelyke silwer kraletjies wat by Ketef Hinnom gekry is en besef dat dié item uit die Eerste Tempeltydperk dateer. Hierdie kraletjie is egter die eerste goue kraletjie van sy soort wat ontdek is.

Die kraletjie bestaan uit vier klein paneeltjies wat ringvormig aanmekaar gegiet is. Die vorm lyk kompleet soos die rat van die een of ander meganiese instrument. Elkeen van die vier paneeltjies loop aan die buitekant uit op agt bolvormige punte wat aanmekaar geheg is.

Die spasie tussen die buitenste balvormige punte is presies die grootte van die balvormige punte. Reg in die middel is ’n gaatjie waardeur ’n toutjie geryg kan word. Die balvormige effek is verkry deur die gesmelte goud op ’n basis van steenkool of steenkoolpoeier te gooi, wat veroorsaak dat die goud ’n borrel vorm, en terselfdertyd verhoed dat dit oksideer. Dié tegniek is in die Middel- en Laat-Bronstyd met groot sukses ontwikkel. Die goudlae is daarna met silwer aanmekaar geheg. In geheel is hierdie kraletjie slegs 6 mm in deursnee en 4 mm hoog.

Israel is nie bekend vir goudmyne nie. Ou Israel het hul goud van elders gekry. Volgens die Ou Testament het koning Salomo se skepe goud, silwer, jenewerhout en edelstene uit Ofir verskeep om na Jerusalem te bring (1 Kon 9: 28; 1 Kron 29: 4; 2 Kron 8: 18; 9 :10). Waar die Bybelse Ofir presies geleë was, is nie seker nie. Die meeste historici vermoed dat die plek óf in die suidelike deel van die Arabiese skiereiland, óf in die horing aan die ooskus van Afrika, geleë kon wees.

In ou Egipte het goud ’n magiese betekenis gehad, veral vir die vermoë van die edelmetaal om te kan blink. In ou Israel was die metaal ’n item wat meestal konings en die tempelpriesters beskore was om te besit. Goud is derhalwe as juweliersware, of vir versiering gebruik. Ou Israel het hul goud waarskynlik by die Fenisiese handelaars gekoop wat dit in die lande aan die Middellandse See, soos Griekeland, gekry het.

Die Bybel en juweliersware

In die Bybel word op verskeie plekke na juweliersware verwys. Die mees uitgebreide lys daarvan kom in Jesaja 3: 18-23 voor. In die lys word pertinent na die topyf!n= (nĕtīfōt) verwys. Dit is ’n item wat soos ’n hangertjie of oorbel gedra kan word, of wat met garing of ’n toutjie aan materiaal vasgewerk kon word.

Tot in hierdie stadium is dit nog te vroeg om presies te kan sê hóé die kraletjie in die grond van die Tempelberg beland het, aan wié dit behoort het of watter rol die kraletjie gespeel het. Die eerste indruk is dat die kraletjie aan iemand van aansien behoort het. Gewone mense kon nie bekostig om goue juweliersware te dra nie. Dit was slegs mense van hoë aansien wat dit kon bekostig om goue juweliersware aan te skaf.

Die feit dat die kraletjie in grond van die Tempelberg gekry is, het die vermoede laat ontstaan dat dié vonds moontlik deel van die hoëpriester se versiering aan sy kleed kon wees en dat dit daar op die berg verloor is. Alternatiewelik kon dit deel van die priesters se versierings wees, of dalk net van iemand van vername aansien.

Die moontlikheid dat dit deel van ’n goue halssnoer kon wees, is moeilik om in te sien, omdat die suiwer goud van die kraletjie, en ’n string daarvan, dit eenvoudig te swaar sou maak om te dra. Aan wie ook al die kraletjie behoort het, die kanse is baie skraal dat daardie persoon oor net één kraletjie beskik het.

Die ontdekking van hierdie kraletjie is absoluut van ’n uitsonderlike aard, veral gegewe die tydperk waaruit dit dateer. Argeoloë wat betrokke is by die siftingsprojek hoop dat hulle nog meer van hierdie soort kraletjies sal kan vind.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link