Wêreldbiddag vir Vroue is vanjaar op die gebruiklike eerste Vrydag van Maart wêreldwyd gevier op 5 Maart 2021. Die land wat 2021 se tema, ’n Lewe gebou op ’n vaste rots, voorberei het vir Christenvroue, is Vanuatu.

Vanuatu bestaan uit ’n klomp eilande in die Stille Oseaan aan die westekant van Australië met Fidji aan hul oostekant. Noord van Vanuatu is die Salomonseilande, en aan hul suidekant is Nieu-Caledonië.

Die eilande van Vanuatu het pragtige swart en wit strande met verskeie koraalriwwe en tropiese visse, en die woude op die eilande is die tuiste van verskeie eksotiese voëls. Baie van die inwoners op die Vanuatu-eilande bly in afgeleë gebiede. Die stede Port-Vila en Luganville het redelike groot populasies, waarvan ongeveer 45 000 mense in Port-Vila bly. Die totale aantal mense wat op die Vanuatu-eilandgroep bly, is ongeveer 312 000.

Die skildery wat die Wêreldbiddag vir Vroue se tema uitbeeld, is geskilder deur Juliette Pita en is getiteld Cyclone Pam II, 13th of March, 2015. Die geskiedenis hiervan het sy oorsprong vanweë Vanuatu se ligging wat hierdie klompie eilande kwesbaar maak vir siklone, tsunami’s en tropiese storms. Die sikloon Pam het hierdie eilande ses jaar gelede op 13 Maart 2015 getref, verwoesting gesaai en menselewens opgeëis.

Die skildery beeld ’n ma uit wat biddend oor haar kind buk terwyl die golwe oor haar spoel en ’n palmboom beskermend oor haar buig. Die palmboom is die kunstenaar Juliette Pita se gunstelingboom as gevolg van sy sterk wortels en omdat die palmboom sterk winde kan trotseer.

Sikloon Pam het die Vanuatu-eilande in 2015 oornag getref, wat dit vir die mense onmoontlik gemaak het om te sien wat om hulle gebeur. Juliette Pita en haar bure moes in ’n groot vraghouer teen die sikloon skuiling soek. Die volgende oggend kon hulle uit die vraghouer klim, net om die verwoesting rondom hulle te sien.

Juliette se studio, wat ’n eilandhut is waar sy elke dag skilder, het palmbome rondom gehad wat dit kon beskerm teen die aanslag van die sikloon, en haar hut is glad nie beskadig nie. Juliette en haar bure het reg deur die nag gebid vir beskerming en glo dat God hul gebede verhoor het en hulle beskerm het daardie verskriklike nag.

Hierdie ware gebeure het die Christenvroue van Vanuatu geïnspireer om uit hul wedervaringe die tema vir die Wêreldbiddag vir Vroue saam te stel. Ons vaste rots is God. Ons moet gedurig bid vir mekaar.

Ons gebede word ook uitgebeeld deur die logo van die Wêreldbiddag vir Vroue. Die logo beeld die vier windrigtings van die kompas uit, asook vier mense wat bid. Die kruismotief met die vier biddende persone (alles in pers kleure) en die sirkel (blou kleur) beeld die wêreld uit met ons eenheid in gebed te midde van ons diversiteit.

Verskeie virtuele seremonies vir 2021, een in Afrikaans, een vanaf Vanuatu plus ’n Kinderprogram wat plaasgevind het op 5 Maart 2021, kan gevolg word deur na die Suid-Afrikaanse Wêreldbiddag vir Vroue se webblad te gaan en daarna te luister by die skakel https://www.wwdp.co.za/information/2021-virtual-ceremonies .

Voorsitter: NHSV Hoofbestuur