Egiptiese argeoloë het vroeg in September 2024 ’n brons swaard by ’n ou militêre fort ontdek waarop die naam van farao Ramses II gegraveer is. Hierdie vonds word as ’n groot ontdekking beskou, veral gegewe die feit dat die swaard sowat 3 200 jaar oud is en dié wapen verstommend nog in ’n goeie toestand is.
Farao Ramses II
Ramses II was ook bekend as Rames die Grote. In baie bronne word hy ook Ramses II (die Grote) genoem. Sy volle name in Egipties was Usermaatra Setepenra Ramses Meriamun. Sy ouers was Seti I en Tuja.
Ramses II was die derde farao van die 66ste dinastie van Egipte. Van die nieu-Egiptiese koninkryk was hy die derde farao uit die negentiende dinastie. Hy het vir bykans 67 jaar van 1279-1213 vC oor Egipte regeer.
Hy het twee vroue gehad, Nefertari en Isetnofret. Daarby het hy nog ses hoofkoninklike vroue gehad en sowel as ’n groot aantal byvroue met ’n laer status, maar waarvan hulle getal nie bekend is nie. By al hierdie vroue tesame het hy baie kinders gehad, om die waarheid te sê, tussen 48 tot 50 seuns en sowat 40 tot 53 dogters.
Ramses II het sy land tot ’n magtige ryk uitgebrei. Hy het sy ryk tot by Sirië in die ooste en Nubië (die moderne Soedan) in die suide uitgebrei. Verder het hy ’n geweldige groot bouprogram gevolg, en sy land tot ’n ryk moondheid met ’n ongelooflike sterk militêre mag ontwikkel.
Vir baie jare lank het navorsers en filmmakers geglo dat Ramses II die farao was onder wie se bewind Moses die Israeliete met ’n groot uittog uit Egipte gelei het. Geen argeologiese óf enige historiese inligting kon hierdie persepsie nog bevestig nie. Navorsers het intussen versigtig geraak om met sekerheid te sê wie die farao van die uittog was.
Tell Al-Abqain
Tydens argeologiese opgrawings by ’n ou militêre kasernes in die Nyldelta is hierdie swaard van Ramses II in een van die vertrekke wat as ’n bergkamer gebruik is, gevind.
Die plek waar die fort staan, is bekend as Tell Al-Abqain wat 30 km suid van Alexandrië geleë is. Daardié gebied het uit ’n groot aantal verdedigingsvestings bestaan wat opgerig is om die land aan die westelike front teen invalle van die Libiese stamme en die Seevolkere te beskerm.
Tell Al-Abqain was ’n militêre fort wat in 1550 tot 1070 vC ’n sleutelrol in die gebied gespeel het. Die Seevolkere is daarvoor verantwoordelik gehou dat hulle die Hetitiese Ryk tot ’n val gebring het.
Dié fort blyk volgens Egiptiese en Hetitiese bronne baie suksesvol te wees om invalle van die Seevolkere en Libiese stamme die hoof te bied. Die rede waarom die kompleks ontruim is en ’n groot voorraad militêre toerusting agtergelaat is, is egter steeds ’n groot raaisel.
Met die ontdekking van dié swaard was dit dadelik duidelik dat hierdie item nie ’n gewone wapen is waarmee gaan veg is nie. Dié swaard het as ’n simbool van status gedien vir iemand in ’n baie vername posisie.
Kundiges aanvaar dat die naam wat daarop in hiërogliewe geskryf is, eienaarskap van die swaard bevestig. Dié swaard het dus aan farao Ramses II behoort. Hy het nie daarmee gaan veg nie, maar dit tydens seremoniële geleenthede gebruik.
Ander ontdekkings
’n Interessante ontdekking wat ook daar gemaak is, is ’n gemummifiseerde koei wat by die fort begrawe is. Hierdie is nie die eerste keer dat ’n koei ontdek is wat begrawe is nie.
In ou Egipte is koeie as goddelike wesens beskou. Hulle het oorvloedige rykdom, krag en voorspoedige welvaart gesimboliseer. Wanneer ’n farao oorlede is en hy begrawe word, is ’n koei dikwels ook begrawe sodat die farao goddelike kos kon hê in die lewe na die dood. Koeie is vereer as die godin Bat, die beskermer en goddelike moeder van die farao.
Die koei wat by Tell Al-Abqain begrawe is, het simbolies ’n soortgelyke funksie gehad. Die koei het as ’n simbool van goddelike kos gedien vir die soldate wat aktief in diens gesterf het terwyl hulle besig was om die land teen insypelaars en vyandelike magte te beskerm. Die afgestorwe soldate sou dus kos in oorvloed hê in die lewe na die dood.
Of die swaard wat met Ramses II se naam daarop gegraveer is enige seremoniële verband gehad het met die koei wat begrawe is, of die soldate wat aan diens gesterf het, is nie seker nie. Dié verband sal nog ondersoek moet word.
Ander items wat ook in die ruïnes van die fort gekry is, is ’n versameling skarabeë van miskruiers wat uit klip gekerf is, kookgerei, juweliersware en stokkies van ivoor.
Miskruiers is in ou Egipte beskou as ’n simbool van die vroeë oggendson en speel ’n belangrike rol in die skeppingsverhale van Egipte. Op een skarabee is die naam van Amun – Heer van die hemelruim – in hiërogliewe gegraveer. Ander skarabeë het weer inskripsies van verskillende gode se name daarop, óf sketse van verskillende blomsoorte gehad.
Van die juweliersware wat ontdek is, sluit onder andere ’n brons ring in met die naam Amun Horakhty daarop gegraveer, blou en rooi halssnoere, agaatflesse en verskeie halfedelstene wat bekend is as karneool wat in die vorm van granaatpitte geslyp is.
Die ivoorstokkies is deur die mans en vroue vir estetiese of kosmetiese doeleindes gebruik. Hulle het met dié stokkies hul oë gegrimeer, of poeier aan hulle ooglede gesmeer om hul oë teen die son te beskerm, of middels aangesmeer om insekte af te weer.
Die kasernes waar die diensdoenende soldate gebly het, het uit verskeie modderhutte bestaan. Verder was daar ook ’n gebou waar die soldate se wapens geberg is, ’n sentrale kookarea met klei-oonde waar kos voorberei is, asook vertrekke waar die kookgerei gebêre is. Al die items is op ’n goed georganiseerde wyse ingerig. In ’n aantal groot keramiekkruike is visgrate en bene van diere, meestal van beeste, gevind.
Verder is ook twee gegraveerde sandsteenblokke gevind. Op die een is die naam van Ramses II in hiërogliewe gegraveer en op die ander die naam van Baji, wat vermoedelik ’n belangrike hooggeplaaste amptenaar was. Wat die funksie van hierdie sandsteenblokke was, is nie seker nie en sal ook nog nagevors moet word.
Hooffoto: Die swaard met die cartouche van Ramses II (die Grote) wat in ’n ou Egiptiese fort, nou bekend as Tell Al-Abqain, in Egipte ontdek is. Dié swaard is vermoedelik eerder tydens seremoniële geleenthede gebruik as vir beskerming of gevegsdoeleindes. (Bron: Egyptian Ministry of Tourism and Antiquities of Egypt
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)