Argeoloë het nét sewe kilometer noordwes van Jerusalem ’n ontdekking gemaak wat die wêreld verstom het. Hulle het ’n tempel uit die Ystertyd II-tydperk (10de tot 6de eeu voor Christus) ontdek wat gedurende dieselfde tyd as die tempel van Salomo gefunksioneer het. Nie net één tempel nie, maar twee. Die een gebou is letterlik óór die ander een gebou om ’n groot kompleks te vorm.

Die bestaan van hierdie tempel het nogal as ’n ontnugtering gekom, want nêrens in die hele Bybel bestaan daar enige verwysing na die bestaan van hierdie nuut ontdekte tempel nie.

Die tempel by Motza

Dié ontdekking laat nie net vrae ontstaan oor die ontdekking van ’n tempel wat maar slegs sewe kilometer van die tempel van Salomo bestaan het nie, maar werp ook nuwe lig op die stad waar die tempel gestaan het.

Die plek waar die oorblyfsels van die kompleks gekry is, is bekend as Tel Motza. Volgens berekening is die tempel van Salomo gedurende die tiende eeu voor Christus gebou. Hierdie tempel by Motza dateer uit die laat tiende tot vroeë negende eeu voor Christus.

Volgens Josua 18: 26 was Mosa een van die Benjaminitiese stede. Die Talmoed vertel dat die omgewing van Motza ’n gewilde plek was waar die jong manne jaarliks wilgertakke gaan pluk het om hul hutte gedurende die Loofhuttefees te bou.

Die interessante van die Motza-tempel is dat die argitektoniese struktuur volledig volgens die plan van die tempel in Jerusalem gebou is.Al verskil is dat die Motza-tempel net tweederdes die grootte van Salomo se tempel in Jerusalem was. Origens lyk die uitleg presies dieselfde, wat nogal ’n verstommende waarneming is.

Die tempelkompleks bestaan uit twee geboue. Die boonste vlak het as die tempelgebied gedien. Dié tempelgebou is gebou oor ’n ouer gebou wat voorheen as tempel gebruik is en wat ná die oprigting van die nuwe gebou as graanbergingskure gedien het. Die graan wat in hierdie kamers geberg is, is gebruik by die offeraltaar. Die tempel in Jerusalem is ook uit hierdie bergingskamers van graan voorsien vir hul offerdoeleindes.

Die Motza-tempel, net soos die tempel in Jerusalem, hoewel die skaal net ’n bietjie kleiner was, het basies die standaardplan van tempels in die Ou Nabye-Ooste gevolg soos wat dit sedert die derde millennium voor Christus gebou is. Kundiges is daarvan oortuig dat dié tempel, net soos die tempel van Salomo in Jerusalem, deur Siriërs uit die noorde gebou is. Die Siriërs was destyds bekend as meesterbouers vir die oprigting van tempels.

Die vraag wat navorsers aan die raai het, is waarom die administrasie van die Jerusalem-tempel enigsins sou toelaat dat ’n tweede tempel met ’n volledige ekonomie net sewe kilometer daarvandaan kon funksioneer.

Volgens Shua Kisilevitz, van die Israelse Raad vir Oudhede, sou dit nie moontlik wees dat ’n tweede tempel, met sy volle ekonomie, slegs sewe kilometer van die tempel in Jerusalem kon funksioneer sónder goedkeuring en beheer vanuit Jerusalem nie. Die feit dat die tempel in Jerusalem op ’n gereelde basis voorrade van die Motza-tempel ontvang het, bevestig dat dié tempel ook vanuit Jerusalem bestuur kon wees. In elk geval, dit was ten minste nog die geval tydens die Verenigde Koninkryk, voordat die Ryk tussen Jerobeam en Rehabeam geskeur het.

Die kultiese artefakte van die tempel

Die oos-westelike uitleg van die tempel het oor ’n groot voorhof beskik waaruit ’n lang reghoekige gebou noordwaarts opgerig is. Reg voor die gebou het ’n altaar gestaan. Die meeste godsdiensaktiwiteite het daar in die voorhof by die altaar plaasgevind.

Nie ver van die altaar af nie is ’n stortingsterrein gekry. ’n Stortingsterrein vir die altaar het amper soos ’n geniza vir heilige geskrifte gewerk. Sodra geskrifte in die heiligdom oud en verslete begin raak het, is daardie geskrifte sorgvuldig toegedraai en op ’n waardige wyse begrawe. Alles wat tydens rituele in die tempel gebruik is en simbolies ’n religieuse betekenis gehad het, is versigtig begrawe. In die stortingsterrein by Motza is tussen die as stukkies beendere gekry van diere wat geoffer is.

Hierbenewens is ook vier klein beeldjies gekry – twee met mensgesigte en twee van perde. By nadere ondersoek is bevind dat dié klein beeldjies ’n kultiese plek in die tempel gehad het. In die tempel het nié net ’n diens tot eer van Jahwe, die God van ou Israel, bestaan nie, maar ook ’n diens waarin ander gode aanbid is. Hierdie beeldjies het dan as ’n soort medium gedien waardeur priesters met die ander gode gekommunikeer het.

Twee godsdienshervormings

In die Ou Testament word vertel van twee groot godsdienshervormings wat gedurende die koningstyd plaasgevind het: die eerste tydens die regering van koning Hiskia (715-686 vC) en die ander onder koning Josia (640-609 vC).

Die feit dat daar twee godsdienshervormingsprosesse was wat in minder as ’n honderd jaar plaasgevind het, verklap die aard van die godsdienstige verval wat in Juda voorgekom het. Kisilevitz verduidelik aan The Times of Israel dat die godsdiens in Juda meegesleur geraak het deur die invloed en gebruike van ander volkere in die Ou Nabye-Ooste. In die Ou Nabye-Ooste is tempels letterlik verstaan as die huise van gode. Die beelde van die gode is soos lewende wesens behandel. Hulle is gewas, kos en wyn gegee, terwyl ook gereeld offers aan hulle gebring is. Dié behandeling was noodsaaklik omdat die gode tevrede gehou moes word, sodat wanneer hulle deur iemand geraadpleeg word, die gode reeds in ’n goeie gemoedstemming gevind kon word.

In die tempel was daar dan klein beedjies wat die funksie gehad het dat hulle as ’n tussenganger met die gode kon praat. Die Motza-tempel het nou aan die lig gebring dat soortgelyke praktyke ook in Juda plaasgevind het. Dit is glad nie seker wanneer hierdie tempel ophou funksioneer het.

Waarde van die ontdekking

Die ontdekking van die Motza-tempel werp groot lig op die godsdiens en in besonder die aard en verval daarvan in Juda gedurende die sewende eeu voor Christus.

Eerstens bevestig die ontdekking van hierdie tempel dat daar benewens die tempel in Jerusalem ook ander tempels naby of ver van Jerusalem bestaan het, ten spyte van die Bybel se swye daaroor. Tweedens lig die ontdekking van die tempel ’n sluier oor die aard van godsdienswanpraktyke wat in Juda bestaan het en wat godsdienshervorming genoodsaak het.

Die rede waarom Bybelskrywers nêrens in die Bybel daarna verwys nie, is waarskynlik oor die skandvlek van godsdienstige verval waaronder dit gebuk gegaan het. Dit beteken dat die aard van die godsdiensverval en beoefening van afgodery só ’n groot skande vir die Bybelskrywers was, dat hulle eerder verkies het om daaroor te swyg.

(Hierdie teks is gebruik in die radioprogram Kerk Aktueel op Pretoria FM, op Sondag 23 Februarie 2020)

af
af
Deel met behulp van
Copy link