’n Internasionale span argeoloë het in die suide van die provinsie Luxor in Egipte die murasie van ’n stad ontdek wat in ongeveer 1385 vC gebou is.

Dié murasie is reeds in September 2020 ontdek deur argeoloë wat onder leiding van dr Zahi Hawass werk. Hulle was eintlik besig om na die tempelgraf van Toetankamen te soek toe dié stad onder die sand ontdek is. Die area waar die opgrawings plaasgevind het, is in die dieselfde omgewing waar die tempels van Horemheb en Ay gevind is.

Ontdekking van die stad Aten

Die stad wat naby die Vallei van die Konings onder die sand ontdek is, was bekend as Aten en is deur farao Amenhotep III as sy hoofstad naby die wesoewer van die Nylrivier aangelê. Amenhotep III was een van die farao’s wat gedurende die 18de Dinastie in Egipte, van 1386-1353 vC, regeer het.

Die stad is vir ’n kort tydperk ook deur sy seun, Amenhotep IV, bewoon totdat hy vir hom ’n nuwe stad as hoofstad by Amarna in die Nyldelta laat bou het. Amenhotep IV is veral daarvoor bekend dat hy sy naam na Akhenaten verander het en die eerste farao was wat met ’n monoteïstiese godsdiens begin het.

Akhenaten het die god Aten aanbid. Sy voorgangers het die songod Amun en ’n hele panteon van ander gode aanbid. Aten was meer spesifiek die son Ra mét sy sonstrale wat op die aarde geskyn het. In ’n muurpaneel wat van Akhenaten gemaak is, staan hy en sy vrou onder die strale van die son. Die tempel wat hy laat bou het, was ook ’n groot oop platform met ’n klein afdakkie aan die een kant daarvan.

Die ontdekking van hierdie verlore stad word deur historici as die tweede belangrikste ontdekking beskou sedert die ontdekking van die grafkamer van Toetankamen, die seun van Amenhotep IV/Akhenaten en Nefertiti.

 

Uitleg van die stad  

Die strate van die stad het aan weerskante daarvan huise gehad wat met modderstene gebou is. Sommige van die mure was tot drie meter hoog. Die stad het na die westekant ontwikkel, in die rigting van die bekende Deir el-Medina.

Uit historiese dokumente is dit bekend dat die stad oor drie koninklike paleise beskik het wat aan Amenhotep III behoort het. Verder was daar ook ’n gevestigde administratiewe en industriële sentrum in die stad. Die noordelike deel van die stad is steeds onder die sand en moet nog opgegrawe word.

Aan die suide van die stad is ’n bakkery en kosplek gekry wat volledig met oonde en bergplek vir potte, erdekruike en bakke toegerus is. Volgens die grootte daarvan moes ’n groot aantal werkers daar gewerk het en het die fasiliteite oor die vermoë beskik om kos vir ’n baie groot groep mense te maak.

Verder is ’n groot aantal ringe, ’n skarabee, gekleurde erdekruike en bakke, en stempels met Amenhotep III se modiljon daarop gevind. Die ontdekking hiervan het die datering van die stad moontlik gemaak.

Die administratiewe en residensiële deel van die stad is toegerus met mure wat sigsag geloop het en na die binnekant van die stad gelei het. Dié formasie is waarskynlik om sekuriteitsredes so gebou. Daar was ook slegs één ingang na die sentrale deel van die stad toe, wat die beheer daarheen makliker kon maak. Sigsagmure was volgens die Egiptiese argitektuur ’n rare en unieke vorm van bouwerk en het eers aan die einde van die 18de Dinastie in gebruik geraak.

Een van die vreemde ontdekkings wat gemaak is, is die skelet van ’n mens met sy arms na die kante toe uitgestrek en sy bene by sy knieë met ’n tou vasgemaak. Die skelet se kop is ook vreemd na links gedraai en effens na boontoe gerig. Die plek waar die skelet gevind is en die vreemde posisie daarvan sal met navorsing ontleed word.

Waarde van die ontdekking

Die ontdekking van die stad gaan ’n groot bydrae lewer oor die leefwyse van Egipte gedurende die Ryk van Amenhotep III toe sy koningskap op sy hoogtepunt was.

’n Ander kwessie is dat die ruïne van die stad waarskynlik groot lig gaan werp op die rede waarom Amenhotep IV/Akhenaten dié stad ontruim het en in die Nyldelta die stad Amarna as nuwe hoofstad vir hom laat bou het. Tot op hede aanvaar navorsers dat Aten deur ’n epidemie van builepes getref is. Akhenaten het dié epidemie as ’n straf van Aten geïnterpreteer en die plaag as ’n boodskap van sy god gesien dat hulle nie in ’n stad mag bly wat voorheen aan ander gode gewy was nie. As gevolg van die groot getal sterftes in die stad het hy dié stad verlaat en sy nuwe hoofstad in Amarna laat bou.

Een van die belangrike vondste wat gemaak is, is ’n pot met 10 kilogram gedroogde of gekookte vleis daarin. Op die pot verskyn ’n waardevolle inskripsie wat lees: Jaar 37, bewerkte vleis vir die derde Heb Sed-fees van die slaghuis uit die voorraadkamers van Kha, en voorberei deur die slagter luwyʾ. Die waarde van hierdie inligting is dat die inskripsie na ’n spesifieke fees verwys en ook twee persone se name noem: Kha en luwyʾ, wat gedurende die tyd van Amenhotep III in die stad gewoon en gewerk het. ’n Jaar ná die datum wat op die pot verskyn, is die stad ontruim en die hoofstad na Amarna verskuif.

In ’n ander inskripsie wat op ’n stempel gekry is, lees die inhoud: ʾgm pa Aton, wat beteken die woonplek van die helderskynende Aten. Dit is die naam van die tempel wat Akhenaten by Karnak gebou het.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

Een van die gegraveerde erdekruike wat in Aten in die provinsie van Luxor ontdek is

© Zahi Hawass, Sentrum vir Egiptologie

Die geraamte van ’n mens wat in Aten gekry is. Die vreemde posisie waarin die skelet gevind is, wek talle vrae oor die omstandighede en oorsaak van die persoon se dood

© Zahi Hawass, Sentrum vir Egiptologie

af
af
Deel met behulp van
Copy link