’n Vervloekingsteks wat op die Ebalberg gekry is, en uit die Laat Bronstyd van ongeveer 1200 vC dateer, werp waarskynlik nuwe lig op die vroeë Israeliete se vlak van geletterdheid net voordat hulle in die beloofde land ingetrek het.
In argeologiese kringe word hierdie ontdekking as ’n reusevonds beskou wat net een keer in ’n duisend jaar gemaak word. Wat hierdie ontdekking veral besonders maak, is dat dié tablet slegs 2 x 2 cm groot is, maar ook omdat dit die oudste verwysing na God se naam, YHWH (Jahwe), in die vroegste vorm van Oudhebreeus daarop vertoon.
Ebal, berg van vervloekings
Die Ebalberg is in die Bybel bekend as die plek van vervloeking. Voordat die Israeliete by die beloofde land ingetrek het, is vir hulle gesê: Wanneer die Here jou God jou inbring in die land waarheen jy op pad is om dit in besit te neem, moet jy die seën plaas op die berg Gerisim en die vloek op die berg Ebal (Deut 11: 29, AFR2020).
Op dié berg het Josua ook ’n klipaltaar gebou met ruwe, onbewerkte klippe (Jos 8: 31) wat met kalk afgewit is (Deut 27: 4). Op dié altaar moes die volk dan hul brand- en maaltydoffers bring. Die berg is nie ver van Sigem af geleë nie. Die plek is onder die plaaslike bevolking van die moderne stad Nablus bekend as Al-Burnat, wat in Arabies beteken: die boonste hoed.
Die spesifieke plek waar die vervloekingstablet ontdek is, is volgens argeoloë voorheen spesifiek as ’n kultiese plek ingerig. Die plek is veral gedurende die Vroeë Ystertyd in die 11de eeu voor Christus aktief as ’n kultiese terrein gebruik. Dit is ongeveer die tyd toe die Israeliete in Kanaän ingetrek het.
Epigrafiese ontleding
Die tablet is in Maart 2022 ontdek tydens ’n hersiftingsproses van grond wat reeds in 2019 vir die eerste keer gesif is. Dit is maar ’n prosedure wat gewoonlik op argeologiese terreine gebruik word om seker te maak dat artefakte nie in die eerste fase van ondersoek deurgeglip het nie.
Die lettertipe op die tablet vertoon baie duidelik ’n vroeë ontwikkeling van Oudhebreeus. Die letters is waarskynlik die oudste Hebreeuse inskripsie wat nóg in die land van Israel gevind is. As hierdie waarneming korrek is, kan dit die geskiedenisboeke herskryf, want dan beteken dit dat die Israeliete, toe hulle Kanaän ingetrek het, ’n geletterde groep mense was. Dan het die Israeliete dus reeds geweet hoe om te skryf en het hulle reeds oor ’n alfabet beskik. Dit plaas die mense van Israel se ontwikkeling en bemeestering van die skryfkuns tot soveel as 500 jaar terug in die geskiedenis.
Vroeër is gereken dat die vaardigheid om die skryfkuns te bemeester van ongeveer die tyd van Dawid in die 10de eeu voor Christus gekom het. Nou blyk dit dat die Israeliete die kuns om te skryf al vroeër bemeester het. Dit beteken verder dat hulle dan vroeër ook reeds geweet het hoe om die naam van die Here te skryf.
’n Skandering van die woorde wat by die Gutenberg-Universität in Mainz gedoen is, het getoon dat daar 40 letters op die tablet geskryf is, en dat die woorde arur (vervloek) en YHWH (Jahweh) duidelik gelees kon word. Die vorm van die letters is só oud dat sommige van die letters selfs nog tekens van hul invloed uit die hiërogliwiese skryfstyl toon. Tegnies staan hierdie skrif nog as proto-Kanaänities bekend. Dié skryfstyl stem ooreen met die tipe skryftegniek wat in die 12de eeu, of selfs vroeër, gebruik is.
Uit die inhoud van die inskripsie blyk dit dat die teks ’n vervloekingsteks is wat duidelik as ’n vermaning bedoel was. Die vraag wat by navorsers opgekom het, is hóé en wáár pas hierdie teks nou by die gemeenskap van destyds in?
Die formule wat die skrywer gebruik het om sy boodskap te skryf, is ’n redelik algemene waarskuwing wat in die Ou Nabye Ooste gebruik is. In die vroeë regsgeskiedenis is mense dikwels by wyse van ’n sosiale kontrak gewaarsku wat die gevolge sal wees indien hulle die ooreenkoms sou verbreek. Die woorde op hierdie tablet lees nou soos volg:
Arur Arur Arur Vervloek, vervloek, vervloek.
Arur la’El Ye’ho Vervloek deur Jahweh.
Tamut – Arur Jy sal vervloek sterf.
Arur – Mot Tamut Vervloek, sal jy sekerlik doodgaan.
Arur l’Ye’ho Vervloek deur Jahweh.
Arur Arur Arur Vervloek, vervloek, vervloek.
Die vervloeking begin en sluit af met ’n driemalige gebruik van die woord arur, wat beteken “om vervloek te wees”. Die driemalige gebruik van arur bevestig die goddelike betrokkenheid in die ooreenkoms. Die gevolge van die verbreking van die ooreenkoms sal dus daarop neerkom dat die oortreder deur God tot rekenskap gebring sal word.
Normaalweg is só ’n kontrak deur iemand van ’n hoër aansien aan iemand in ’n ondergeskikte posisie gegee. Die kontrak kon moontlik betrekking hê op die uithuur van grond of ’n ander skuldooreenkoms wat aangegaan is. Indien die lener, of ondergeskikte in die ooreenkoms, nié sy verpligting nakom nie, moet hy weet dat hy deur die Here vervloek sal word.
Die vervloeking is met ’n stukkie literêre kuns saamgestel. Die eerste drie reëls word byna soos in ’n spieël in ’n omgekeerde volgorde voltooi. In literêre terme word só ’n struktuur ’n chiasme genoem. Die eerste drie reëls lees:
Vervloek, vervloek, vervloek.
Vervloek deur Jahweh.
Jy sal vervloek sterf.
Dan word in ’n omgekeerde volgorde weer herhaal:
Vervloek, sal jy sekerlik doodgaan.
Vervloek deur Jahweh.
Vervloek, vervloek, vervloek.
Die fokuspunt van die vervloeking behels dat die oortreder drie maal deur God vervloek sal word as hy die ooreenkoms nie sou eerbiedig nie, en sy vervloeking sou dan ook behels dat hy sal sterf. Tot in die dood toe sal hy vervloek wees.
Die omgekeerde chiastiese samestelling van die vervloeking is ’n stylfiguur wat wél ook in die Bybel voorkom. Die betekenis van hierdie teks lê nou daarin dat hierdie literêre skryfkuns dus al vóór die skryf van die Bybel in gebruik was, omdat die Bybel baie eeue later eers geskryf is.
Daar is navorsers wat reken dat die Ou Testament ’n produk uit die Persiese en Hellenistiese tyd is. Hierdie ontdekking kan daardie persepsie weerlê.
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)