Ek dink terug aan ons reis deur die mooie Oos-Vrystaat in die laaste stuiptrekkings van die winter. Die gras nog wintervaal met geen druppeltjie reën wat nog geval het nie. Maar die wilgerbome het groen, grasgroen, oral in die veld gestaan. Baldadige groen ruikers in alle moontlike skakerings van groen, terwyl sommige ander bome nog vaal en blaarloos in hul winterrus gesluimer het.

En ek wonder: Hoe kry die wilgerboom dit reg om altyd heel eerste, nog voordat die lentereëns gekom het, so met oorgawe te kan pronk?

Sy baie wortels soek diep na water” en “Die koue dele se bome verloor vroeg hul blare, daarom bot hulle ook dan weer eerste”, sê die slimmes.

Ja, dink ek, al sou die reën nie kom nie, nogtans sal die wilgerboom bot en nogtans sal ek glo dat dit een van God se skeppingswonders is! Seisoene kom en gaan op ons Hemelse Vader se bevel en beslis die groei van die wilgerboom ook.

Met ons, sy kinders, is dit ook so. Te midde van die vaal, dor en sondige wêreld rondom ons, kan ons in sy genade groen en welig groei. Net soos die wilgerbome, kan ons ook uitbundig juig te midde van ’n vaal winterveld van sonde, pyn en swaarkry. In die 2020-vertaling verklaar Habakuk 3: 18: …nogtans sal ek jubel in die Here, sal ek juig in die God wat my verlos.

Swaar tye tref ons almal – die volgeling van Jesus, sowel as die wêreldling. Die verskil kom in by hoe ons dit hanteer, of eerder, hoe ons toelaat dat die swaarkry ons hanteer. Die wêreldling maak staat op haar mag, haar status en haar bankrekening – wat haar gruwelik kan teleurstel in tye van erge nood. Vriende verdwyn soms soos mis voor die oggendson wanneer dit met jou swaar gaan.

God se kind het die genade ontvang om deur sy krag te kan hanteer wat op haar pad kom… Biddend en op haar knieë. Daar is geen ander bron wat jou vir ewig bystaan, ewig trou en onwrikbaar sterk is nie. Waar sal my hulp dan anders vandaan kom? Die helpende hand van die Gees bewys Paulus se stelling in 2 Korintiërs 12: 8-10 dat sy genade genoeg is.

As die vyebome nie bot nie, as die koring verdroog op die lande, die veldbrande alles verwoes, nogtans sal ek jubel in die Here, want Hy en Hy alleen gee die krag om te kan opstaan en te kan jubel in sy almag. Deur Hom, sy Gees wat my bystaan en dra, kan ek bly glo dat Hy sal voorsien in moed en krag en middele. As ek glo, opreg glo, kan ek ten spyte van alles jubel, kan en sal ek nogtans, deur sy ewige genade, my geloof en vertroue behou.

Ten spyte van kanker, ten spyte van ’n outistiese kind, ten spyte van jou man wat werkloos raak, ten spyte van jul enigste motor wat onklaar raak, kan ’n moedige vrou die wêreld rondom haar steeds vrolik en met blink oë groet, want nogtans, ten spyte van haar probleme, bot haar vyeboom in haar vertroue op God en sy genade.

Ten spyte van alles wat in hierdie sondige wêreld om haar woed, staan sy vas en veilig in die beloftes van die Here. Hy laat haar groen staan teen ’n vaal winterveld – soos die gewillige wilgerbome in die Vrystaat. Neerdrukkende omstandighede, bedompige gemoedere en negatiewe omstanders laat haar nie terugdeins nie. Sy hou aan om ’n positiewe verskil te maak, want sy weet op wie sy vertrou

NHSV tema 2025: …want ek weet op wie ek vertrou… (2 Timoteus 1:12b)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap