Die Hiksos was ’n gemengde Semitiese groep wat vanuit die noordwestelike deel van die Ou Nabye Ooste die Nyldelta ingeval en van ongeveer 1638 tot 1523 vC as farao’s oor die noordelike deel van Egipte regeer het. Altans, dit is wat ou navorsing vertel het. Navorsing wat met nuwe tegnologie die tande van ou skelette beter kan ondersoek, is nou besig om die geskiedenis van die Hiksos te herskryf.

Volgens ou bevindings het Semitiese magte Egipte vanuit die noordooste ingeval en beheer oor Egipte verkry. Hulle het uit verskillende Semitiese groepe gestam, uit veral die oostekant van die Middellandse See.

Flavius Josefus vertel dat hierdie buitelandse mag hulself die Hiksos genoem het. Josefus het die woord Hiksos verkeerd vertaal en na hulle as herderkonings verwys. Hiksos is ’n Egiptiese woord wat eintlik na regeerders van buitelandse afkoms (heqa-khase) verwys.

Egipte is gedurende die laat 17de en vroeë 16de eeu voor Christus deur farao’s met swak leierseienskappe regeer. Dit het daartoe bygedra dat die Hiksos maklik beheer oor Egipte kon verkry. Egiptiese beheer is eers weer deur farao Ahmosis I (± 1549-1524 vC), die stigter van die 18de Dinastie, van die Hiksos teruggewen.

Die Hiksos het onuitwisbare invloed op die Egiptiese kultuur uitgeoefen. Dit het nuwe tegnologie vir die maak van erdewerk, oorlogvoering, handel en godsdiensgebruike ingesluit. Die Hiksos-kultuur het veral sterk invloed van die Mitanni-koninkryk, Hetitiese Ryk en Mesopotamië gehad.

Egipte het sélf veranderinge ondergaan. Vir die eerste keer het Ahmosis vir Egipte ’n staande weermag geskep. Soldate het grond gekry waarop hulle kon boer en waarmee hulle sekuriteit aan hul gesinne kon gee.

Die grafika hierbo toon juis ’n toneel waarin farao Ahmosis I op sy strydwa in ’n geveg met die Hiksos gewikkel was (© Wikimedia Commons).

Resultate uit Hiksos-grafte

Die Hiksos se hoofstad in die Nyldelta was Avaris, wat vandag bekend is as Tell el-Dab’a. Dié stad was ongeveer 120 kilometer noordoos van waar die moderne Kaïro vandag geleë is.

’n Ondersoek na die oorblyfsels van menslike skelette wat in die Hiksos se begraafplaas nét buite die stad gekry is, het nou ’n nuwe wending in die interpretasie van die Hiksos gebring. Dit is al lank dat navorsers daaroor twyfel of die Hiksos werklik ’n buitelandse mag was wat Egipte ingeval het. Hierdie nuwe bevindinge op die skelette van die Hiksos bevestig nou dat die navorsers se agterdog oor ou bevindinge geregverdig is.

Die jongste bevinding wat nou danksy nuwe gesofistikeerde tegnologie verkry is, dui daarop dat die Hiksos ’n groep mense was wat oor ongeveer ’n duisend jaar na die Nyldelta gemigreer het en hulle daar as ’n kolonie gevestig het.

Argeoloë het tot dié bevinding gekom nadat monsters van die tande van die Hiksos-skelette geneem is. ’n Ontleding van die tande en tandemalje het duidelik tekens getoon van stronsium wat deur die minerale in die water en gewasse in die Nyldeta gekweek is. Stronsium is ’n mineraal wat in alle rotse voorkom en deur die water en kos in ’n mens se beendere en tande beland. As gevolg van dié waarneming kon met sekerheid vasgestel word dat die mense aan wie die skelette behoort het, nie van elders af gekom het nie, maar in die Nyldelta gewoon het.

DNS-toetse het wél getoon dat die voorouers van die Hiksos van Wes-Asiatiese mense gestam het, maar dat hulle reeds eeue lank in die Nyldelta gevestig was. Die invloed van die Nylrivier en plantgewasse wat langs die Nyl verbou is, het in hul tande gewys.

’n Skets van ’n migrerende groep wat by Beni Hasan teen die muur van die graf van Khnumhotep II, ’n hooggeplaaste amptenaar in die regeringstyd van farao Senusret II uit die Twaalfde Dinastie (± 1900 vC), gekry is en later as die Hiksos beskryf is.
© Wikipedia

Die beëindiging van die heerskappy van die farao’s was nie as gevolg van magte wat die delta ingeval het nie, maar ’n resultaat van plaaslike mense wat oor ’n lang tydperk ongelukkig geraak het met farao’s wat swak leierskap getoon het en onbevoeg was om die land te bestuur. Dié swak leiding het uiteindelik gelei tot opstand deur die mense in die Nyldelta.

Die groep wat hulself die Hiksos genoem het, was dus ’n groep wat lank vóór die Hiksos-opstand uit ’n multikulturele agtergrond gekom het en hulle vreedsaam in die Nyldelta gaan vestig het.

Vreedsame migrasie

Die idee dat ander Semitiese groepe vreedsaam na die Nyldelta gemigreer het, word verder bevestig deur die afwesigheid van enige teken van oorloë daar. Nie een van die grafte rondom Avaris toon enige tekens van oorlogstrauma aan die skelette nie. Verskeie dokumente wat op huweliksooreenkomste dui, noem mans met Egiptiese name wat met vroue getroud is wat oor nie-Egiptiese name beskik het, en andersom.

Wetenskaplikes het met behulp van geochemiese metodes die tande van 75 mense in die gebied ontleed om die verhouding van geslagte te probeer vasstel. In 20 gevalle kon met sekerheid vasgestel word dat die skelette aan mans behoort het, en in 30 gevalle dat dit vroue was. Die groter getal vroueskelette van vóór die Hiksos-dinastie dui daarop dat vroue vroeër saam met migrerende groepe na die Nyldelta gemigreer het. Die moontlikheid dat hierdie vroue ter wille van huweliksredes na die delta gemigreer het, kan nie uitgesluit word nie.

Vroue het mans nooit tydens gevegte na die gevegsterreine vergesel nie. Die aanduiding dat skelette met vroue verbind kon word, is ’n verdere teken dat die migrasie na die Nyldelta vreedsaam verloop het.

Die Hiksos het geleidelik tot ’n krag ontwikkel. Met die migrering van ander groepe het die inwoners van die Nyldelta in aanraking gekom met nuwe tegnologie, soos die gebruik van perde en strydwaens, wat hierdie groepe met hulle saamgebring het.

Daar is argeoloë wat ook daarvan oortuig is dat die Hiksos die eerste opstellers van die alfabet is. Daar bestaan egter nog te min inligting om tot hierdie gevolgtrekking te kom.

Verdere navorsing oor die Hiksos

Hierdie deurbraak maak talle deure oop vir nuwe navorsing oor dié groep. Een ding wat baie duidelik uit dokumente oor die Hiksos blyk, is dat hul optrede en bewind met groot ontwrigting en chaos gepaardgegaan het. Ongelukkig het die farao’s wat aan bewind gekom het nadat die Hiksos se mag gebreek is, ook alle rekords en inligting oor die Hiksos tot niet gemaak.

Die kulturele artefakte wat vandag in die besit van museums is, is uit die grafte van die Hiksos herwin, of uit die enkele ruïnes van tempels en huise van Hiksos in die Nyldelta. Die Hiksos-grafte is maklik uitkenbaar. Die mans is normaalweg mét hul brons wapens begrawe en sonder enige amulet of skarabee wat as beskermingsteentjie moes dien, soos wat dit die gebruik by die Egiptenaars was.

Een van die eienaardige verskynsels by die grafte van die Hiksos is dat net ’n entjie van die vooraanstaande mans se grafte af ook twee rydiere soos perde of donkies begrawe is, asof hulle gereed sou wees om ’n strydwa te trek. In uitsonderlike gevalle is ’n strydwa saam met die diere gevind.

Uit ou navorsing is reeds bekend dat die Hiksos bedrewe bootbouers, handelaars en huursoldate was. Die eerste persoon wat oor die Hiksos geskryf het, was ’n Ptolemeuse priester genaamd Manetho, wat in die vroeë derde eeu voor Christus ’n chronologiese lys opgestel van al die farao’s wat oor Egipte regeer het. Volgens hom het die Hiksos aan bewind gekom toe die politiek en bestuur van Egipte chaoties was.

Hierdie deurbraak oor die Hiksos, oor hoe en wanneer hulle in die Nyldelta aangekom het, maak sekerlik die deur oop vir baie nuwe moontlikhede om dié groep verder te bestudeer.

*** Hierdie artikel is Sondag 26 Julie 2020 uitgesaai in PretoriaFM se program Kerk Aktueel.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link