Ek is ’n dosent by ’n tersiêre instelling, en behoort daarom genoeg kennis van my vakgebied te hê om ander te kan onderrig. Om eerlik te wees, dink ek nie ek weet veel nie. Ek dink ek weet baie van ’n klein deeltjie van my vakgebied, en ’n bietjie van die res. Dit is eenvoudig maar net so dat hoe meer ’n mens weet, jy maar alte goed besef dat jy eintlik maar min weet.

Die afgelope tyd het ek agtergekom hoekom dit so is. Dit lyk vir my dat ek my studies op die verkeerde manier aangepak het. Al die lang ure tot laat in die nag om vir eksamens voor te berei en ’n proefskrif te skryf, was nie die korrekte benadering nie. Daar was ’n makliker manier. Ek moes net aan ’n paar WhatsApp-groepe behoort het en so ’n paar YouTube-video’s oor my vakgebied gekyk het, en sou dan baie vinnig ’n spesialis en kenner van my vakgebied gewees het.

Hoekom? Want dit gebeur die afgelope tyd keer op keer. Hierdie metode is bewys. Verskeie persone behoort aan ’n paar WhatsApp-groepe wat “kenners” van entstowwe is, en het ook al so ’n paar YouTube-video’s gekyk oor die gevare van inenting teen die Covid-19-virus. En almal is nou viroloë, kenners van hul gebied, en daarom teen inenting vir Covid-19. Party gooi ’n godsdienstige sousie by, en glo daarom dat “die bloed van Jesus” jou teen die virus sal beskerm. Ander weer voeg ’n politieke sousie by, en samesweringsteorieë vier hoogty. Dit is alles ’n plan om jou DNS te verander, en Bill Gates kom vir jou!

Twee opmerkings hieroor: Hulle wat teen inentings is, voer ’n emosionele, onwetenskaplike en oningeligte argument. Skoenmaker, hou jou asseblief by jou lees! Tweedens, onthou maar gerus dat hierdie pandemie nie net vir jou raak nie, maar ook vir ander. Vir almal rondom jou. Hulle wat die Bybel jou naaste noem.

En dit bring my by my punt. In Markus 12: 31 stel Jesus duidelik wat die grootste gebod is: Jy moet God liefhê met alles wat jy het en is, en jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Hierdie gebod, toegepas op die pandemie wat ons tans beleef, is eenvoudig. Motiveer ander om hulself te laat inent, soos jy jouself laat inent het.

Nou is die tyd dat die kerk sy profetiese stem moet laat hoor. Ons kan nie stilbly nie. Die kerkleiding, predikante, lidmate en gelowiges moet soos vanuit een koor dit van die dakke af verkondig: As jy jou naaste liefhet, sal jy jou laat inent. So eenvoudig is dit. En weet maar vooruit: Profete is nooit gewild nie.

1 Johannes 3: 18 sê dit so mooi: Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word…

Daarom, maak daardie afspraak en daag op, of stap sommer in. En terwyl jy ’n geselsie met een van jou naaste aanknoop, bewys met die daad dat jy jou naaste liefhet. Die Bybel leer ons immers dat Wie vir God liefhet, moet ook sy broer (en suster) liefhê (1 Joh 4: 21).

Dit is wat dit onder andere ook beteken om in Jesus se voetspore te volg…

(Prof Ernest van Eck is hoogleraar en adjunkdekaan van Teologie en Religie aan die Universiteit van Pretoria)

af
af
Deel met behulp van
Copy link