Het jy al gewonder hoekom ons verhoudings en verbintenisse so ’n belangrike behoefte in ons lewens is wat bevredig moet word en as dit nie tot realisering kom nie, dit dikwels dramatiese gevolge vir ons het?
Die Woord van die Here gee vir ons ’n antwoord. God Drie-enig is ’n verhoudingswese en Hy het ’n heelal geskep wat van verhoudings en verbintenisse getuig. Reeds in Genesis 1: 26 (AFR1983) sê Hy: Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld… Verder sê die Here ook in Genesis 2 dat dit nie goed is dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke. Vandag besef ons dat ons mekaar nodig het, dat ons afhanklik van mekaar is – en dit skep verhoudings.
Dr Henry Cloud skryf in sy boek Changes that heal die volgende: Die soeke na sinvolle verhoudings is fundamenteel aan die mens. Lewende wesens staan in verhouding met iets anders. Alle mense staan in ’n bepaalde verhouding met mekaar en die omgewing waarin hulle lewe. Dit is ook waar in die natuur. So het plante ook ’n verhouding met die omgewing en kan hulle nie voortbestaan en groei as daar nie sonlig, water en suurstof is nie. Mense kan ook nie alleen leef nie. Die verhouding en verbintenis wat jy met jou Skepper, jou medemens en jou omgewing het, speel ’n belangrike rol in die volle aktualisering van jou menswees.
In 1 Johannes 4: 7 lees ons dat God liefde is en dat ons mekaar moet liefhê ten spyte van ons verskille. Liefde is die basiese identiteit van die Hemelse Vader, en so behoort dit ook met ons te wees. Liefde vir mekaar skep gesonde verhoudings. Sonder ’n besondere verhouding en liefde met en vir God en ons medemens, kan ons eintlik nie ons ware self wees nie. Sterk verhoudings is ’n fundamentele vereiste vir ons om ten volle te kan lewe, en die fondament van die beeld van God. Dit is soos ’n plant waarvan die verhouding met die res van die skepping daarrondom versteur is en wat dan nie aan die lewe kan bly nie.
Liefde bepaal die mens se leefstyl. ’n Lewe vol liefdevolle verhoudings maak God se bedoeling met die wêreld en mense sigbaar. Dit is nie altyd so maklik om met almal ewe goed oor die weg te kom nie. Dié van julle wat gholf speel, weet dat gholfspelers ’n voorgee het wat almal in die sport gelykwaardig maak. So is dit ook met die mensdom voor God die Vader. Die genadige God maak nie onderskeid tussen ons nie. Ja, dit is so dat ons as mense van mekaar verskil. Ons kan selfs sê ons is meer anders as wat ons eenders is, maar voor Hom is ons ten spyte van ons verskille gelyk en moet ons mekaar liefhê om gesonde verhoudings en verbintenisse te handhaaf.
Abraham Maslow, Amerikaanse sielkundige, het reeds dekades gelede sy hiërargie van menslike behoeftes in die vorm van ’n piramide daargestel en dit kan vandag steeds met groot vrug gebruik word. Hy onderskei tussen die mens se laer- en hoërordebehoeftes. Ons laerordebehoeftes sluit byvoorbeeld ons fisiologiese noodsaaklikhede soos voedsel, klere, rus, beskerming teen koue en hitte, veiligheid en sekuriteit in. Psigologies sluit die hoërordebehoeftes die volgende in: die behoefte om te behoort (om wanted te voel), liefde, intieme verhoudings, vriende, erkenning en selfrespek. Hy kom tot die slotsom dat die mens eers tot volle selfaktualisering kom wanneer hierdie behoeftes bevredig word. Eers dan kan die volle potensiaal van die individu verwesenlik word.
Verhoudings het ’n besondere plek in Maslow se hiërargie. Die behoefte om te behoort, dat ek wanted kan voel, moet ook op gemeentelike vlak bevredig word. Teen hierdie agtergrond kan ons nie die fisiese bywoning van eredienste, waar ons geloofsgemeenskap en verhoudings versterk word, verwaarloos nie.
Ons emosionele en psigologiese welsyn word, volgens dr Henry Cloud, deur die status van ons hart bepaal, en die status van ons hart is afhanklik van die diepte van ons verhouding met God en ander. Daarom die raad in Spreuke 4: 23: Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.
Dit is so dat daar mense is met wie ons sterker verhoudings en verbintenisse het as met ander. Een van die redes is dat elkeen van ons ’n persoonlike ruimte het waarbinne ons net sekere mense met gemak akkommodeer. Kyk maar hoe ons mekaar groet. Ons stap dikwels gewoon by mense verby. Met sommige sal ons oogkontak maak en hulle selfs met ’n glimlag beloon. Ander sal ons selfs met ’n woord groet, en miskien vra hoe dit gaan. ’n Handdruk is tekenend van ’n sterker verhouding en verbintenis. Dan is daar die mense wat so naby aan jou kan kom dat jy hulle selfs ’n drukkie kan gee. Die wyse waarop ons mekaar groet, speel ’n belangrike rol in ons verhoudings.
Verhoudings wat jy met mense het, goed of sleg, word vir altyd onthou. Miskien kan jy nie meer onthou wat jou graad 5-onderwyser jou in die skool geleer het nie. Word jy egter gevra na jul verhouding en hoe jy hanteer is, is die moontlikheid sterk dat jy dadelik sal kan antwoord.
Liewe leser, hoe lyk jou verhouding met die mense wat die liewe Heer op jou lewenspad plaas? Laat jy hulle wanted voel?
(Die woord wanted word gebruik omdat dit die behoefte van “behoort” sterk beklemtoon.)
(Oudl Dries le Roux is ouderlingslid van die Kommissie van die AKV)
