’n Wyse man het gesê: Geen mens kan ’n eiland wees in ’n see van mense nie.
Ons saamwees, saamleef, aksies en reaksies dra daartoe by dat ons voortdurend beweeg. Van stagnasie om ’n eiland te vorm, is daar geen sprake nie. Waar mense is, is aksie en beweging. ’n Eiesoortige dinamika by uitstek. ’n Medemens word geraak en aangeraak, positief of negatief. Inspirerend en opbouend, of demoraliserend en afbrekend.
Die resultaat van kontak en aanraking kan lei tot hoop, groei en vreugde, of tot wanhoop, seerkry en moedeloosheid. Saam vorm mense die stroom van die lewe. Inderdaad ’n uitdagende vloei en reis!
Spreuke 27: 17 (AFR83) stel dit op ’n ander manier: Yster slyp yster, vriende vorm mekaar. Die woord vriende kan met gemak vervang word met mense.
Soos yster teen yster, is spoelklippe in die stroom van die lewe. Daar gebeur iets. Aanraking vind plaas. In die stroom is daar by geen klip ’n passiwiteit of posisie van onaangeraak wees nie. Saamrol, stamp, skuur, of aanhelp om te rol en te beweeg. Klippe help en beïnvloed mekaar om betrokke te wees en deel te wees van die stroom op pad – die op-pad-wees in ’n nuwe rigting en die ervaring van nuwe terrein. Klippe wat soms voortrol en soms verpoos.
Grotes, mediumgrotes en kleintjies, almal is aan die rol. Elkeen raak in die een of ander stadium van die reis ’n ander een aan. Selfs klippe wat vasval, vassit, vasgevang word, vassteek of min beweeg, word deur ander klippe wat voortspoel en vloei aangeraak. So ook raak rustende, vasgesteekte en vasgevange klippe die ander aan wat oor en verby hulle beweeg. Ook hulle maak hul merk.
Het jy al ons menswees só gesien? Waar lê jy? Hóé het jou vloei verloop? Watter reaksie is deur jou vasspoel teen ander klippe veroorsaak?
Aan die ander kant was daar die ander klippe saam met jou in die stroom. Stamp, stoot, versplinter, skuur, aanrol, in beweging bring, skuur vol bemoediging, aanhelp, ’n hupstoot gee en mekaar help om ’n betekenisvolle klip van waarde te wees.
Verstaan ek my bestaan in die stroom van die lewe? Verstaan ek dat ek nooit alleen in hierdie stroom is nie? Sien ek die noodsaaklikheid van die ander klippe saam met my raak? Besef ek hul waarde vir my reis in die stroom van die lewe?
God het voorsien. Soos yster yster slyp, kry ons as mense die geleentheid om mekaar te beïnvloed. Inderdaad maak ek ’n merk op ’n ander se lewe.
Waar het ek gevloei? Wie het saam gevloei? Wie se stampe en vasrol was positief en tot my voordeel? Wie s’n was negatief wat my laat seerkry het en my ongelukkig laat voel het?
En ekself, ’n spoelklip in die stroom van die lewe waarin God my geplaas het? Jesus het die voorbeeld gestel vir hoe ek in hierdie stroom moet vloei. Die Heilige Gees was oral en altyd by en in my om my te inspireer en my te lei in my lewenstroom.
Ek, die spoelklip, kan leer, ervaar, groei, geniet, myself uitleef, ’n positiewe verskil maak, Jesus se gesindheid en dade uitleef, mense se harte aanraak en God se wil laat geskied. Sy koninkryk op aarde laat kom. Alles met my unieke menswees as kroon van God se skepping. Met die opleiding en leiding van sy Woord, en onder leiding van die krag en inspirasie van die Heilige Gees.
Spoelklippies in die stroom van die lewe is verskilmakers, liefdedelers, wyse mense wat ware wysheid deel, opheffers, uitbreiders van die koninkryk van God, medikasie en noodhulp vir beseerdes en swakkes, pasaangeërs met koers en doelgerigtheid, medemense met deernis en omgeeharte, oorwinnaars wat ander wil beïnvloed om ook wenners vir God te wees. Dankbare mense in verhouding met God.
Maak doelbewus tyd om stil te word en te besin oor die spoelklippe om jou. Bedink hul invloed, aanmoediging en noodsaaklike plek in jou lewenstroom. Erken en waardeer hul invloed op jou reis en op jou menswees. Besin oor jou eie aanraking met ander klippe.
Groot, medium en klein klippies het die opdrag en roeping: Leef só dat God se koninkryk sal kom, dat sy wil sal geskied, dat die liefde, vrede en vreugde van sy hemel ’n werklikheid sal word op die aarde, en dat elke spoelklip sal rol, skuur, stamp en mekaar sal vorm tot eer en verheerliking van God.
Onthou: Geen mens kan ’n eiland wees in ’n see van mense nie. Wees die rollende spoelklip in die lewenstroom tot jou eie welwese en ’n sinvolle lewe. Sulke spoelklippe rol en vloei tot eer van God, tot die uitbreiding van sy koninkryk, en tot seën van mekaar. Wees tot seën van elke ander mens saam met en om jou.
Wees soos die spoelklippe, tot seën van mekaar!
