Buite-Bybelse verwysings na Bybelse gebeure is waardevolle inligting om die geskiedenis van die Bybel beter in te kleur. Een so ’n verwysing is dié van koning Sanherib van Assirië se gespog oor hoe hy koning Hiskia soos ’n voël in ’n kou in Jerusalem vasgekeer het.

Die annale van Sanherib is op drie seskantige prismas geskryf wat tussen die ruïnes van Nineve gekry is. Al drie prismas is van klei gemaak en in Akkadiese spykerskrif beskryf. Die inhoud van die tekste op die prismas lees presies dieselfde.

Hierdie drie prismas word in drie verskillende museums bewaar. Die een, bekend as die Sanherib Taylor Prisma, word in die British Museum in Londen uitgestal. Dié prisma is vernoem na kolonel R Taylor wat in 1830 die Britse konsul-generaal in Bagdad was en aan wie die prisma eers behoort het. Die tweede prisma, bekend as die Oriental Institute Prisma, staan in die Oosterse Instituut in Chicago, terwyl die derde prisma, die Jerusalem Prisma, in die Israelse Museum in Jerusalem staan.

[Die foto hierby is van die Sanherib Taylor-prisma in die British Museum in Londen. Die Taylor-prisma dateer uit 691 vC. © British Museum]

Die prismas dateer uit ongeveer 689 vC. Die afmetings daarvan is 38 cm hoog, 13,3 cm wyd aan die bokant en 14 cm wyd op die basis daarvan. Op die ses kante is saam in totaal 487 reëls geskryf. Dié prismas is gewoonlik in die hoeke van die paleis of tempel geplaas as ’n vorm van beskerming en is bedoel om aan die gode geadresseer te wees.

Nineve, waar die prismas gevind is, was die hoofstad van Assirië. Dié stad is veral bekend uit die boek Jona waarin vertel word dat die profeet ’n opdrag van die Here ontvang het om in die stad te gaan preek en die boodskap aan die inwoners te bring dat hulle hulle moet bekeer, of om die gevaar te loop dat die stad binne 40 dae verwoes gaan word (Jona 3: 4).

Uit die geskiedenis is dit bekend dat Sanherib in 701 vC ’n beleg van Jerusalem uitgevoer het, maar dat hy vanweë ’n epidemie wat onder die soldate uitgebreek het, verplig was om die beleg op te hef en die land te verlaat. Nuwe navorsing het bevind dat daardie epidemie die gevolg was van builepes wat deur rotte en veldmuise veroorsaak is, en wat tot groot moeilikheid en lewensverliese onder die Assiriese soldate gelei het.

Op die ses kante van die prisma word agt militêre veldtogte van koning Sanherib teen verskillende volkere beskryf. Tydens ’n deel van sy derde veldtog het hy Juda ingeval en Jerusalem onder beleg geplaas.

Die Bybelse en ander getuienis

Die Bybelse weergawe van die gebeure wat op die prisma beskryf word, kom in 2 Konings 18: 13 – 19: 37 en Jesaja 36: 1 – 37: 38 voor. Daarin word vertel dat Hiskia al die silwer in die tempel en dié in die skatkamers van die paleis op aandrang van Sanherib aan hom oorhandig het.

Sanherib het verder ’n enorme bedrag aan onderdanigheidsbelasting op Hiskia gelê, en toe hy dit later nie meer betaal het nie, het Sanherib ’n beleg van Jerusalem uitgevoer. Die Bybelskrywers vertel dat dié beleg opgehef is nadat ’n engel van die Here deur die Assiriërs se laer gegaan het en 185 000 soldate laat sterf het (2 Kon 19: 35; Jes 37: 36).

Die Griekse historikus Herodotus (c 484-425 vC) het ook na hierdie insident verwys en vertel dat ’n plaag veldmuise die Assiriërs se boogsnare en die gespes van hul skilde stukkend geknaag het, en aan hul kosvoorrade gevreet het. Dié plaag muise het tot die siekte en sterftes van duisende soldate gelei. Herodotus berig nie hoeveel soldate presies tydens die muisplaag gesterf het nie.

Met die stukkend geknaagde boogsnare en gespes van die skilde het die soldate gesukkel om hul wapentuig in stand te hou en te gebruik. Hierdie situasie het meegebring dat die Assiriese veggeneraals besluit het om die gebied te ontruim en terug te keer huis toe.

Die Joodse historikus Flavius Josefus verwys ook na hierdie gebeure en vertel dat die Assiriese veggeneraal die beleg opgehef het nadat ’n plaag onder die Assiriese soldate gemaai het (Ou Tyd, 10.1.5).

Sanherib, die koning van Assirië

Sanherib het in 705-681 vC oor Assirië regeer. In Akkadies beteken sy naam letterlik “Sin (die maangod se naam) het die broers vermenigvuldig”. Sanherib was een van die magtigste monarge in die geskiedenis van die wêreld. Hy was die koning van Assirië en die seun van Sargon. Hy het sy pa opgevolg en die troon op die 12de dag van die maand Ab (Julie tot Augustus) 705 vC bestyg.

Die mislukte beleg van Jerusalem en die groot aantal soldate wat tydens daardie veldtog oorlede is, het ’n invloed op Sanherib se aansien in Assirië gehad. Sy lewe het uiteindelik tragies geëindig. In 2 Konings 19: 37 word berig dat, terwyl Sanherib in die tempel van Nisrok gaan bid het, sy twee seuns, Adrammeleg en Sareser, hom met die swaard doodgemaak het. Hulle het daarna na veiligheid in die land Ararat gevlug, waarna ’n ander seun, Esarhaddon, koning geword het.

Waarde van die Sanherib-prisma

Die belangrike waarde van die drie Sanherib-prismas vir Bybelse navorsing is eerstens dat Hiskia se naam pertinent daarin genoem word. Tweedens word in die prismas ook verwys na die onderdanigheidsbelasting wat Sanherib op koning Hiskia gelê het en dat Sanherib met militêre veldtogte opgetree het teen lande wat nié hul verpligtinge nagekom het nie. Derdens word bevestig dat Sanherib die Koninkryk van Juda tydens sy derde veldtog in 701 vC ingeval en ’n beleg van Jerusalem uitgevoer het.

Met hierdie ooreenkoms tussen die inligting op die Sanherib-prismas en die Bybel se weergawe van die gebeure, word die geskiedenis met groter akkuraatheid bevestig.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link