Ons is bevoorreg om sewe finalejaarstudente te hê wat daarna kan uitsien om op 4 September 2025 gelegitimeer te word. As die datum in September jou onkant gevang het, is jy heeltemal reg. Dit was mos altyd gedurende Novembermaand. Sedert die sesdejaaropleiding volledig deur die Hervormde Teologiese Kollege (HTK) behartig word en nie meer by die Universiteit van Pretoria deurloop word nie, het dit moontlik geword om die legitimasie te vervroeg.

Die sesdejaaropleiding aan die HTK behels dat studente praktykvorming by ’n opleidingsgemeente onder mentorskap van die plaaslike predikant deurloop. By die opleidingsgemeente word studente aan alle fasette van die bediening blootgestel en kry hulle ook genoeg geleentheid om eredienste te lei.

Daar word ook van die studente verwag om vyf kontakweke by die HTK te voltooi. Die eerste kontakweek behels ’n spiritualiteitsweek wat by Origins Retreatsentrum plaasvind. Kontakweke twee tot vier vind by Gemeente Philadelphia plaas en die HTK-dosente sorg dat teorie en praktyk as ’n sinvolle geheel geïntegreer word. Die vyfde kontakweek is ’n ekoteologietoer wat in die Krugerwildtuin gaan plaasvind. Behalwe lesings wat met ekoteologie verband hou, vind daar stapgeleenthede in die wildtuin plaas onder die leiding van ervare veldwagters. 

My bede is dat elke student aan die einde van die jaar geordende predikante van ’n gemeente sal wees.

(Dr André Ungerer is die hoof van die Hervormde Teologiese Kollege)

 

Uit die mond van die finalejaarstudente…

Kom ons hoor wat die sewe studente oor hulself te sê het.

 

Peet Bloem

Ek is in 1958 te Delareyville gebore en matrikuleer in 1976 by die Hoër Landbouskool Genl Koos de la Rey in Sannieshof.

Na skool het ek by die polisie aangesluit en was deel van die rangeenheid wat waggestaan het by die Staatspresident, Eerste Minister en ander ministers. Daarna het ek by Sasol begin werk en het in 2019 na 36 jaar diens vroeë aftrede aanvaar. Die rede vir vroeë aftrede was juis om die roeping en begeerte om teologie te studeer, na te jaag. My studies het in 2020 by die Universiteit van Pretoria ’n aanvang geneem en dit was vir my uiters vervullend.

DV 2025 gaan ek my gemeentejaar by Gemeente Secunda doen waar ek reeds vir meer as 40 jaar lidmaat is en al in verskeie ampte gedien het. Die huidige predikante wat my mentors gaan wees, is di Hannes Wolmarans en Martin Meyer. Beide is uiters toegewyde bedienaars van die Woord en is ook baie betrokke in die gemeenskap. Ek sien uit daarna om saam met hulle te werk. Wat ’n voorreg om twee mentors te hê!

Ek glo daar sal vir my geleentheid wees om na legitimasie betrokke te raak by die ring en ek sien baie daarna uit.

Ek hou daarvan om aktief te bly en het altyd langafstande gedraf, deesdae stap ek so gereeld as moontlik.  

 

Zanedrieka de Lange

Ek het grootgeword in Gemeente Noordwestelike Pretoria en het nog altyd groot waardering gehad vir die predikante in my lewe en die ondersteuning wat hulle in hul onderskeie gemeenskappe bied. Dit is grotendeels ook waarom ek besluit het om teologie te gaan studeer.

Ek het my teologiese opleiding verskriklik geniet. Dit was met tye uitdagend, maar dit het ook my verstaanshorison verbreed en diepte tot my geloof gevoeg. Ek weet nou dat geloof en ’n verhouding met God nie sonder komplikasies is nie. Net soos met enige ander verhouding vereis dit toewyding, geduld, eerlike weerloosheid en (soms) worsteling.

My opleidingsgemeentes is Philadelphia en Noordwestelike Pretoria. My missie tydens my sesdejaar is om die koninkryk van God te laat realiseer in ons gebroke wêreld. Die evangelie bied ’n voorsmaak van hierdie gerealiseerde koninkryk en daarom voel ek geroepe om die evangelie van Jesus uit te leef. Dit is egter makliker gesê as gedaan. Die evangelie vra van ons om liefde en genade aan alle mense te bewys sonder om iets terug te verwag. Dit is egter vir ons as sondige mense moontlik deur die krag en leiding van die Heilige Gees.

 

Helga du Plessis

Ek is die oudste van twee dogters wat grootgeword het op ’n plaas net buite Randfontein. Van graad vyf af het ek geweet dat ek ’n predikant wil word. Ek het toe al met dr Johan van Staden (ook my mentor) gaan gesels oor wat die opleiding sou behels.

Vandag het ek die voorreg om te kan sê dat ek my praktiese opleiding kan voltooi tussen die mense wat my geleer het wat dit beteken om deel te wees van die liggaam van Christus. Binne Gemeente Sionspoort het ek ook ander mentors wat elkeen ’n bydrae tot my geloofsvorming gehad het, steeds het, en van wie ek nog baie het om te leer. Dit is waarom ek met die grootste dankbaarheid gekies het om myself diensbaar te maak in die warm gemeente van my kinderdae.

Ek het ’n voorliefde vir die son, leeus (die diere en rugbyspan), koffie, vleis en Kauai-muffins, draf, humor, musiek, dramatiese kunste, taal (veral metafore) en kinders. Tussen my derde- en vierdejaar op universiteit het ek die voorreg gehad om vyf skryfkursusse te voltooi en in my eerste jaar het ek Drama- en Filmstudies as keusemodule gekies. Vanuit hierdie liefde en my passie vir waarheid, geregtigheid, buitestaanders, Nuwe Testamentiese literatuur, die leefwêreld en invloede van die antieke Nabye Ooste, theo-drama en liefde, het ek die voorreg gehad om onder leiding van dr Annette Potgieter ’n tesis te skryf, getiteld: “Staged: Performing Susanna – a performance critical analysis”. In my vierde jaar, onder leiding van dr Annelie Botha, het my minitesis oor die pastorale versorging van verstandelike gestremde persone gehandel.

My visie is om die manier hoe ons as Kerk God se liefde uitleef, so toeganklik as moontlik vir almal te maak en om nooit op te hou om te leer nie. Liefde en vrede, Helga.

 

Kharla Guest

Toe ek in matriek was en die keuse moes maak oor wat ek wil studeer, het ek geweet ek wil by die Universiteit van Pretoria studeer, maar ek was onseker oor wat presies ek met die volgende drie jaar van my lewe wou doen… En dán vir die res van my lewe. In oorleg met my pa en gebed het ek toe die besluit geneem oor wat ek vir die volgende ses jaar van my lewe sou doen. Ek het besluit om teologie te gaan studeer en ’n dominee te word. Ek het nie ’n spesifieke roepingsoomblik gehad nie, maar ek voel steeds soos ek op daardie stadium gevoel het: Ek moet hier wees. En as dit nie die Heilige Gees is wat my lei nie, weet ek nie wat of wie dit is nie. Ek het ’n groot liefde vir die Hervormde Kerk, al is daar soms dinge waarmee ek worstel.

Ek gaan my gemeentejaar by Gemeente Meyerton-Suid doen. Ek is my hele lewe lank al in dié gemeente. My oupa se broer het die kerkgebou gebou en my oupa en pa het gehelp om die hekke te bou. Dit is vir my ’n baie spesiale plek om my gemeentejaar deur te bring saam met ’n mentor na wie ek opkyk.

My M-miniverhandeling se tema was: “Exploring the role and function of visual art in the Christian Reformed Tradition: The Netherdutch Reformed Church of Africa as a case study” (ja, in Engels, want alhoewel ek ’n liefde het vir Afrikaans, druk ek myself akademies beter in Engels uit).

Ek voel God se teenwoordigheid die meeste wanneer die wind deur die blare waai, die water oor die klippe kabbel, en in die kreatiwiteit van mense in die vorm van kuns. En ek dink die Hervormde Kerk kan baat by meer estetika en mooiheid, oor die algemeen en as ’n middel vir spiritualiteit. 

In my vrye tyd geniet ek dit om te lees (ek het in 2024 omtrent 20 boeke gelees, bo en behalwe alles wat ek vir my M-graad moes lees). Ek geniet dit om vakansie te hou en tyd saam met my vriende en familie te spandeer. 

Dis ’n voorreg om deel te wees van ’n Kerk waarop ek trots is en in die woorde van Koos du Plessis: “Wat ek is, is net genade. Wat ek het, is net geleen.” Ek wil die beste maak van wat vir my geleen is, en iets deel van God se teenwoordigheid en liefde wat ek in my lewe voel. 

 

Carien Janeke

In my matriekjaar is ek met die vraag gekonfronteer: “Wat gaan jy volgende jaar doen? Waar gaan jy studeer? Wat gaan jy studeer?” Oorspronklik het ek gedink ek gaan fisioterapie of chiropraktyk by die Universiteit van Johannesburg studeer. Alhoewel ek baie deur die jare gedink het ek wil ’n dominee wees, het ek dit nooit hardop gesê nie. Ek het op daardie stadium nog nooit ’n vrou in die rol van predikant gesien nie, gevolglik het ek gedink dit is taboe. Nadat ds Petri van Rooyen oorsee verhuis het, was hier ’n aantal predikante wat kom preek het om ons gemeente te help om aan die gang te bly. Die een Sondag is dit toe ’n vrou. Ek het na die diens met haar gesels en uiteindelik die moed gehad om vir my ouers te sê ek wil teologie gaan studeer.

Al is ek net ’n mens wat foute maak en feilbaar is, voel ek my roeping en missie is om ander te help om hul afhanklikheid van God raak te sien deur die Woord suiwer te verkondig en ’n stem te gee aan diegene wat stemloos is. Dit is vir my ’n absolute voorreg om deel te wees van die Hervormde Kerk en byna ’n leraar in die Kerk te wees.

Ek bly my hele lewe lank al in die bosveld en hier het ek my liefde vir die Kerk ontdek. Daarom sal my gemeentejaar ook hier in die bosveld by Gemeente Joachim Prinsloo in Northam wees.

Die idee van die hel het my al van my vierde jaar as teologiestudent af baie gefassineer – die konsep van goed en kwaad, lig en donker. Dit het my gemotiveer om daaroor navorsing te doen. My M-miniverhandeling se titel was juis: “Die teologiese plek en interdissiplinêre betekenis van die hel in Dante se Inferno”.

Omdat ek baie lief is vir die natuur en om buite te wees, gaan stap ek graag in my vrye tyd. Ek het ook ’n groot liefde vir fietsry, en dis iets wat ons as gesin baie saam doen. In 2024 het ek my eerste Cape Town Cycling Tour voltooi en ek sien uit om dit nog vir baie jare saam met my gesin te kan doen. Ek hou ook baie daarvan om te skryf en net tyd saam met my naaste mense en my hond te kan deurbring.

 

Christo Pieterse

Ek is lidmaat van Gemeente Losberg in Fochville en die mentor van die begin van my studies, dr Ernest Marran, is tans die diensdoende predikant. 

Ek het grootgeword in Primrose, Germiston, waarna my ouers in 1984 ’n plaas in Tzaneen gekoop het en ek my hoërskoolopleiding aan Hoërskool Ben Vorster in Tzaneen voltooi het. Na skool het ek my diensplig voltooi en in 1990 het ek elektriese ingenieurswese aan die Technikon van Pretoria studeer. In 1995 het ek my diploma in elektriese swaarstroom-ingenieurswese verwerf. Ek werk vir die volgende twee jaar vir Eskom in Nelspruit.

Ek het in 1997 Eskom verlaat vir ʼn beter geleentheid in die Kaap waar ek ook my vrou, Juliet, ontmoet het. Ons is in 1999 getroud en in 2000 is ons eerste dogter, Wilmarie, gebore.

In 2001 het die besigheid waarvoor ek gewerk het, hul tak gesluit en het ek my werk verloor. As gevolg van die slegte ekonomiese toestande in die Kaap het ons teruggetrek Gauteng toe. Ek het ook my eie besigheid, Pieterse High Voltage Engineering, ter selfde tyd geregistreer.

In 2003 is my tweede dogter, Eloise, gebore en in 2006 het ons gesin na Fochville verhuis nadat die besigheid ’n onderhoudskontrak by een van die myne in die omgewing toegestaan is. In 2008 is my derde dogter, Christelle, gebore en in 2010 my seun, Christiaan.

Ek het in 2018 my teologiese opleiding aan die Universiteit van Noordwes op afstandgebaseerde onderrig begin en het my BDiv-graad in 2023 voltooi. In 2024 het ek my MDiv-studies aan die Universiteit van Pretoria voltooi. Ek is ’n persoon wat lief is vir kinders en om hierdie rede het my verhandeling gefokus op kategese in die Hervormde Kerk met die titel: “Geloofsontwikkeling vir die kategese grondslagfase in die NHKA: ’n alternatiewe benadering”.

My visie vir die bediening is om ’n gemeente te lei wat diep gewortel is in die Skrif en aktief betrokke is by die gemeenskap. Ek glo in die krag van prediking en onderrig om lewens te verander en streef daarna om ’n herder te wees wat met liefde en deernis lei en saam met die gemeente groei.

In my vrye tyd geniet ek dit om te lees lees, veral teologiese werke en geskiedenis, asook tyd saam met my gesin te spandeer.

 

Elizabeth Rossouw

Ek is ’n trotse Namibiër wat na my vyf jaar studies aan die Universiteit van Stellenbosch al baie tuis voel in die mooie Suid Afrika.

Ek is opgewonde om in 2025 my gemeentejaar by Gemeente Stellenbosch onder die leiding van dr Chris le Roux te doen. My hoop is dat ek, nie net deur my beroep nie, maar ook deur my lewe vir mense kan wys, vertel en leer van God se liefde wat ek bevoorreg genoeg was om van ’n vroeë ouderdom af te ken.

Tot dusver tydens my studies het ek baie belanggestel in ekoteologie en hoe teoloë soos Bonhoeffer die status quo van diskriminasie teen sommige minderheidsgroepe deur sy preke uitgedaag het.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap