Prop Iwana Hartmann het op Vrydag 1 November 2024 as joernalis by die Sinodale Dienssentrum diens aanvaar. Ons heet Iwana hartlik welkom by die NHKA se kommunikasiespan, en stel haar met ’n paar vrae aan ons lesers bekend.

DH: Wie is Iwana Hartmann?

IH: Ek is die enigste kind van John en Charmaine Hartmann, gebore en getoë in Pretoria. Ek is tans verloof aan die liefde van my lewe, Rikus Kruger, met wie ek later vanjaar in Augustus gaan trou. Ek is lief vir die Here en elke avontuur waarop Hy my tot en met vandag toe gelei het – altyd onverwags maar altyd opwindend! My grootste trots is dat ek, ’n feilbare mens, die voorreg het om my lewe elke dag aan Hom te wy.

Ek het my studies in 2017 by die Universiteit van Pretoria begin en verwerf in 2020 ’n BDiv-graad by die Fakulteit van Teologie en Religie. ’n MTh in Godsdienswetenskap volg met die fokus op die Khoigemeenskap (inheemse groep van Suidelike Afrika) se geloofsisteem en hul interaksie met die Christelike geloof met die aankoms van die Nederlanders aan die Kaap de Goede Hoop. My PhD waarmee ek tans besig is, fokus op die godsdienstige rolle en verantwoordelikhede wat die Khoi en Sanvroue onderneem het in hul gemeenskap (’n inheemse gemeenskap jagter-versamelaars in Suidelike Afrika) met betrekking tot hul tradisionele geloofsisteem en die gevolglike aanpassing daarvan weens die interaksie met ’n ander kultuur en geloof onder die verskillende groepe wat in Suid-Afrika aan bewind was.

DH: Iwana, jy is onlangs gelegitimeer as predikant in die NHKA. En nou is jy die NHKA se joernalis. Verduidelik bietjie vir die lesers oor jou besluit om vir dié pos aansoek te doen.

IH: Daar is ’n goue lyn wat regdeur my teologiese opleiding sigbaar is en wat uiteindelik gelei het tot my besluit om aansoek te doen vir die pos. Tydens my opleiding by die Fakulteit van Teologie en Religie het ek die voorreg gehad om verskeie ervarings as jongmens op te doen.

As ’n voorgraadse student het ek deel gevorm van die Fakulteit se Studenteleierskapkomitee. Van ons verantwoordelikhede het merendeels ingesluit om amptelike funksies by te woon. Dit het ’n jong nuuskierige student se eng wêreld verbreed en kleur gegee. Ek het vinnig lief geword daarvoor om geleenthede te ondersteun waar elkeen in hul eie reg waarde tot die teologiese wêreld bring en ons plek daarin as gelowiges uitbou. Dit was vir my so ’n mooi ervaring om te sien hoe iemand ’n geleentheid skep vir iets wat hulle as waarlik belangrik beskou en bewustheid daaroor wil laat toeneem. Dit is ’n kosbare oomblik in tyd wat jy met hulle deel en ’n aspek van my geaardheid wat ek as belangrik ag vir dié pos.

Van my ervaringe het onder andere ingesluit om tydens my nagraadse studies deel te kon vorm van die bemarkingspan. Ek het gevoel ek floreer in hierdie spasie. Dit was ’n geleentheid om mense se belange te ondersteun en daarom het ek dit dadelik aangegryp. Skielik was my stokperdjie my werk!

Kort hierna het ek begin fokus op my doktorale studies en is ek die geleentheid gegun om deeltyds te doseer. Dit was eers later toe ek van die pos as joernalis pos verneem het dat ek weer teruggedink het aan al die onskatbare avonture wat my bemarkingsrol aan my lewe toegevoeg het.

Ek voel die passie van ’n joernalis in die raamwerk van die Kerk is om kosbare geleenthede van gemeentes en gemeentelede met die wyer Kerk te kan deel, maar ook om die positiewe ingesteldheid daarvan te versprei. Dis ook ’n geleentheid om saam met gemeentes fees te kan vier en te kan nadink oor kwessies wat hulle as belangrik beskou. Die uiteindelike doel is om samesyn tussen gemeentes in die Kerk te ondersteun deur goeie nuus en ’n positiewe gesindheid te versprei. Uiteindelik moet gemeentes braaf genoeg wees om ook hul goeie nuus met die Kerk, en uiteindelik die breër publiek, te deel. Dit is my rol om hulle hiertoe aan te moedig.

DH: Jy het in 2024 deeltyds lesings aangebied in die Departement van Geloofstudies by die Universiteit van Pretoria. Is dit iets wat jy in die toekoms op ’n meer permanente basis sou oorweeg indien die geleentheid hom sou voordoen?

IH: Voor jy jouself kan kry, word akademia met jou menswees vervleg. Dit was ’n groot voorreg om op die ouderdom van 25 te kon doseer. Ek sal beslis op ’n latere stadium in my lewe dit oorweeg indien ek dit met my werk in die Kerk kan kombineer. Maar tans behels my akademiese doelwitte slegs om my doktoraal in 2025 af te handel.

DH: Wat beplan jy om te bereik as die NHKA se joernalis?

IH: Negatiwiteit sluip soms soos ’n dief in die nag by ons alledaagse denkwyse of gesprekke in. Maar kyk ’n bietjie hoe iemand se dag opgekikker word wanneer hulle hoor van iemand wat ander help of iemand wat gee sonder om iets terug te verwag. Ek glo vas die Kerk is ook dié iemand, alhoewel ons nie altyd bewus is van die kosbare oomblikke in gemeentes nie. Dit is my hoop om deur middel van hierdie pos die lig te skyn op die goedheid en genade van God wat gestalte kry in gemeente-uitreike en dade.

Dit is my hoop dat alledaagse mense deur ander geïnspireer sal word om buitengewone dade te verrig en dat ons beriggewing dalk nog meer mense sal beïnvloed.

Die uitvoering van hierdie visie maak staat op ons gemeentes. Selfs al doen ek tot die beste van my vermoë in die Kerk navraag, is die realiteit dat ek nie te alle tye bewus gaan wees van elke gemeente se gebeure nie. Daarom vra ek dat gemeentes die vrymoedigheid sal hê om my te kontak wanneer daar ’n geleentheid of viering plaasvind sodat ek kan kom kuier!

DH: Hoe kan mense jou kontak met nuus?

IH: Enige gemeente, predikant, of selfs lidmate wat ’n geleentheid binne hul gemeente organiseer, kan my gerus kontak by goeienuus@nhk.co.za.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap