By die Israelse Raad vir Oudhede (IAA) is daar groot opgewondenheid ná die ontdekking net buite Jerusalem van die oorblyfsels van ’n paleis. Dié ontdekking is iets buitengewoon en is reeds in November 2019 gemaak, hoewel die aankondiging daaroor eers op 3 September 2020 in ’n persverklaring gedoen is.

Prof Yaakov Billig, wat die ontdekking gemaak het, vertel dat toe die troffel waarmee hulle gewerk het om grond weg te skraap die skuurgeluid van metaal op steen gemaak het, dit die mooiste geluid was wat hy nóg gehoor het. Hy het onmiddellik geweet dat hy iets groots raakgeskraap het.

Argeologiese opgrawings wat rondom die Tempelheuwel en Jerusalem gemaak word, het oor die laaste jare verskeie belangrike deurbrake gemaak. Aan die oostelike kant is byvoorbeeld die Motsa-tempel gevind wat net ’n kleiner skaal van die tempelplan van Salomo se tempel vertoon. Hierbenewens is ook ’n groot blok van ’n administratiewe gebou gevind.

Met die ontdekking van hierdie oorblyfsels van ’n paleis is ’n reusevonds gemaak. Die ruïnes is gevind in die woongebied van Armon Hanatziv, ’n heuwel aan die suidelike kant, net buite die Ou Stad van Dawid, en net sowat drie kilometer van die tempelberg af. Die paleis dateer uit ongeveer die sewende eeu voor Christus en is waarskynlik deur die Babiloniërs in 586 vC verwoes. Dit beteken dat die paleis tussen die Assiriese mislukte beleg in 701 vC en die Babiloniese inval opgerig is.

Wie die paleis opgerig het en wie daarin gebly het, is nie seker nie en kan nog nie bepaal word nie. Die ontdekking daarvan is nou eers gemaak en dit sal minstens 20 jaar neem om met groter sekerheid te kan bepaal waar dié paleis in die geskiedenis van Juda inpas. Die steen wat gevind is, blyk ook deel te vorm van ’n pilaar. Een van die kenmerke van die steen is dat die bokant van die pilaar die kroon van ’n palmboom vertoon. Dié patroon was ’n gewilde motief wat in baie van die Judaïese bouwerk voorgekom het. Die kroon van die palmboom was ’n gevestigde simbool van die monargie van die Suidryk, Juda. Dié simbool kan tans op die 5-sikkel-munt van Israel se moderne geldeenheid gesien word.

Die steen en motief daarop is van ’n uitsonderlike kwaliteit. Hierdie soort motiewe word oral in die vrugbare halfmaangebied van die Ou Nabye Ooste geassosieer met koninklike geboue.

Een van die raaisels met die ontdekking van die steen is die posisie waarin die versierde deel van die steen gevind is. Die manier waarop die steen onder die grond gelê het, skep die indruk dat dit nie net daar geval het en so gelos is tydens die Babiloniërs se verwoestingswerk nie, maar eerder sorgvuldig daar begrawe of weggesteek is.

Waarom hierdie boonste deel van die pilaar (sien foto) so mooi begrawe is, en die res van die terrein mooi gelyk gemaak is, is ’n ope vraag. Wie ook al die steen met groot sorg van sy pilaar verwyder en versigtig gaan begrawe het, het dit duidelik gedoen met die oog daarop dat dit weer herwin en gebruik sal word. Wat wél duidelik is, is dat die een of meer mense wat dit gedoen het, doodseker wou maak dat die motief op die pilaar nie verlore sou raak nie.

’n Ander kenmerk wat dié steen uniek maak, is dat sulke versierde stene gewoonlik net aan die een kant, die voorkant daarvan, versier is waar dit deur besoekers wat by die gebou ingaan, gesien kan word. In hierdie geval is die steen aan sowel die voor- as agterkant met die motief van ’n palmboom versier. Onder die boonste steen is verder nog twee stene ontdek met presies dieselfde motief aan die voor- en agterkant.

Net ’n entjie van die twee stene af is kleiner nisse ontdek wat deel van weelderige vensterrame gevorm het.

Historiese tydlyn

Die eerste afleiding is dat dié paleis gedurende die tyd van koning Hiskia gebou is. Dié berekening word gemaak vanuit die styl van die potte, kruike en lampe wat ook op die perseel gevind is en onmiskenbaar uit die sewende eeu voor Christus dateer.

Ná die Assiriërs se mislukte beleg van Jerusalem in 701 vC het Hiskia waarskynlik genoeg selfvertroue gehad om hierdie besondere paleis buite die stadsmure van die Ou Stad van Dawid te laat bou. Wie presies daar gebly het, is ook nie seker nie. Tussen die mislukte Assiriese beleg en die Babiloniese inval onder Nebukadnesar is Jerusalem opeenvolgend deur agt konings regeer.

Die vlak van vakmanskap wat op die pilaarstene gesien kan word, is van die beste wat nóg in Israel gevind is. Dit sluit ook die graad van berging daarvan in. ’n Aspek wat met dié ontdekking duidelik is, is dat Jerusalem ná die mislukte Assiriese beleg ’n herlewing van die stad se kultuur betree het en Jerusalem se grense tot buite die tradisionele stadsmure laat uitbrei het.

Die tyd sal leer watter verrassings nog met hierdie ontdekking gelewer sal word.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link