’n Studentegemeente het unieke uitdagings. Waar kry jy mense om die kerkbanke vol te sit? Waar kry jy mense wat jy lidmate kan noem as ons voortdurend tot siens moet sê vir studente wat aanbeweeg? Hoe wys ’n mens groei in getalle en fondse? Is dit dan nie die maatstaf vir ’n suksesvolle bediening nie?

Hierdie uitdagings het die twee predikante van Philadelphia al vir jare laat kopkrap en nagte lank laat rondrol. Tot op ’n dag – ’n eenvoudige opmerking wat ons gedagtes aan die gang gesit het: Wees net namens Jesus vir mense lief – dis die evangelie. Hoe moeilik kan dit dan wees?

Dié opmerking het ons anders laat dink oor ons eie bediening en die plek van Philadelphia-Studentegemeente. Wat het ons wat uniek is? Die Here het mos ook daar by die brandende doringbos vir Moses gevra: Wat het jy daar in jou hand? Philadelphia-gemeente is bevoorreg om jaarliks jongmense vol ywer en energie te ontvang – ’n werksmag wat hul harte en hande vir ’n gemeenskap kan gee. Ons twee predikante het nuwe energie gekry toe ons tot die besef kom dat ons werk nie is om kerkbanke vol te kry en lywe vir die Kerk te wen nie, maar om gewillige saaiers in staat te stel om te saai. Energie het losgekom en kreatiewe idees om namens die Here vir mense lief te wees, het ontstaan.

So het ons Afpak-Donderdag gebeur. Jongmense nooi jongmense om mekaar by ’n punt te ontmoet en saam te stap. Geloofs- en hartsdinge word gesels. Na die stap word ’n koffietjie of koue ietsie gedrink, en die gesels gaan voort. Vir diegene wat reken stap is te stadig, is daar ’n Afpak-Drafklub waar studente gemotiveer word om op ’n Maandag ’n 5-kilometer-roete saam te draf en uit hul klein kamertjies te kom. Die Afpak-geleenthede het Afpak-Sondae geword. ’n Kort staproete in die natuur word ’n geleentheid om geloof te gesels.

En so het jongmense begin vra: Hoe kan ek betrokke raak, waar kan ek my hande gee?

Ons deel al meer as 20 jaar lank brood uit by woonstelle in die hartjie van die middestad. Die broodrolletjies, 900 om presies te wees, koop ons aan by Gemeente Noordwestelike Pretoria se Broodprojek. So ondersteun Philadelphia weer húl Omgee-Bediening. Vrywillige hande is egter nodig om by 150 woonstelle, twee geboue met 14 verdiepings sonder werkende hysbakke, ’n halfdosyn broodrolletjies vir elkeen af te lewer. ’n Klop aan ’n deur is nodig en ’n stem wat sê: Brood, brood! ’n Vreemdeling maak oop en ontvang ’n vriendelike glimlag, vars broodrolletjies en Brood vir die Siel, ’n Bybelversie.

’n Menigte klein kindertjies kan nie wag vir die studente om op ’n Donderdag saam te speel en te bid nie. Een maal ’n maand het ons studente ook deel aan ’n Sopkombuis wat saam met ander studentegemeentes in die Hatfield-omgewing aan die gang gehou word. Ons studente-gemeentes reik uit na mekaar deur jaarliks ’n gesamentlike Hemelvaartdiens te hou en ’n Straatbraai-kuier te reël. Dis geleenthede waar ons by mekaar leer en waar ons studente kan sien dat die Kerk oor die groter Koninkryk gaan.

Ons jaarlikse Staptoer is ’n geleentheid om ’n paar dae in mekaar se geselskap deur te bring, saam te suffer, mekaar te bemoedig en om ’n kampvuur geloofsdinge te gesels. Philadelphia-studente is ook baie opgewonde oor Pretoria se jaarlikse gesamentlike Hoërskoolkamp. Dis ’n plek waar hulle hoërskoolkinders kan motiveer en mentors kan wees.

Hoe meet ons groei? Ons meet dit aan ywer, aan tevrede glimlagte, aan deernis wat mense met mekaar het. Ons meet dit aan die mooi verhale van studente wat hul gawes en ywer tot diens van die Koninkryk stel. Wanneer ons groei aan getalle sien, is wanneer ’n menigte jongmense saam kom kuier en dans by die kerk, wanneer hulle mekaar se geselskap geniet. En ja, dalk ook op ’n Sondagaand wanneer vriende vriende uitnooi om saam ’n erediens by te woon en vriendelik verwelkom te word. Ons sien groei wanneer ons hoor dat hierdie jongmense in ander gemeentes van ons Kerk ’n tuiste gevind het en hul ywer daar voortsit. Ons beleef groei wanneer hierdie jongmense die eenvoudige beginsel van die evangelie ter harte neem en dit ’n leefwyse maak: Wees namens Jesus vir ander mense lief.

(Dr Sanrie de Beer is leraar in Gemeente Philadelphia)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap