Dié seldsame voorreg het prof JH (Johan) Koekemoer te beurt geval om op 26 Januarie 2025 sy 65ste ampsjubileum tydens ’n erediens in die kerkgebou van Gemeente Wapadrant te herdenk. Tydens hierdie geleentheid het prof Johan Buitendag, ook ’n vorige dekaan van die Fakulteit Teologie, die huldiging behartig waarna prof Koekemoer ’n kort bedanking gedoen het.
Prof Koekemoer is op 25 November 1959 gelegitimeer en op 23 Januarie 1960 in die Gemeente Turffontein georden waarna hy die gemeentes Bethal (1963), Zuurfontein (1965) en Pretoria-Suid (1972) bedien het. In 1978 is hy as direkteur van KITAL (Kerklike Instituut vir die toerusting van ampsdraers en lidmate) aangestel. In 1987 het hy hoogleraar geword en is in 1992 bevorder tot dekaan van die Teologiese Fakulteit Afd A aan die Universiteit van Pretoria. Hy het in 2001 emeritaat aanvaar.
Na ’n huwelik van 61 jaar het prof Koekemoer se eggenote, Issie (nèe Symington) hom op 21 November 2021 ontval. Drie seuns is uit die huwelik gebore en hulle is met sewe kleinkinders geseën. Prof Koekemoer is tans 89 jaar oud en geniet nog goeie gesondheid. Hy woon selfstandig en gelukkig in die Ruimtesig-Aftreeoord in Faerie Glen, Pretoria.
Die volledige teks van die huldiging deur prof Johan Buitendag kan hier gevind word.
(Mev Louise Geyser is die eggenote van wyle prof PA (Piet) Geyser)
