Broers en susters in onse Here Jesus Christus: 
Hoe, broers en susters, sal ons reageer as een van die volgende met ons sou gebeur? Jou tienjarige dogtertjie is rasend bekommerd. Jy kan dit sommer sien. Uiteindelik, as jy haar aan die praat kry oor dit wat haar so bekommer, kom haar antwoord: ‘dit pla my geweldig dat ek nog nie ‘n pensioenplan het nie!’.

Of dieselfde gebeur met jou agtjarige seun. Iets pla geweldig, jy kan dit sien. En as hy uiteindelik praat oor dit wat pla, kom die antwoord: ‘Ek weet nie hoe ek chemie op universiteit gaan deurkom nie!’

Hoe sal ons reageer, broers en susters? Ons sal heel waarskynlik onmiddellik oordeel dat ons kinders eintlik belaglik is. Hulle is nog glad te jonk om oor sulke dinge bekommerd te wees. ‘n Mens bekommer jou mos in elk geval eers oor sulke dinge as jy daar kom, en wie sê in elk geval dat hierdie dinge gaan gebeur? In elke geval, as die tyd ryp is, en die dinge word werklik ‘n probleem, sal ‘n mens mos daaraan aandag gee.

Ons moet egter mooi dink, broers en susters, as ons so ‘n antwoord sou waag. Want doen ons, as volwasse mense, dikwels nie maar presies dieselfde as dit by hierdie soort ding kom nie? Sterker gestel: ons is eintlik baie goed in die soort van ding. Ons lewe word soms oorheers deur ons eie ‘sê-nou-maars’ en ‘hoe-sal-ekke’. Sê nou maar my kind kry kanker. Sê nou maar ek verloor my werk. Sê nou maar my kind gaan nie iemand kry om mee te trou nie. Sê nou maar my huis gaan in ‘n sinkgat insink. En hoe sal ek maak as ek skielik blind word. En hoe sal ek maak as ek oud word en nie meer vir myself kan sorg nie. En wat sal ek maak as dit gebeur, en hoe gemaak as dat miskien met my gebeur?

‘n Yslike pak bagasie vol kommer. Soveel sorge wat ek met my saamdra, dat ek regtig hoop niemand het soveel sorge en kommer as ek nie. Want, sê ons, hulle sal dit nooit maak nie.

Kommer, broers en susters, verdeel ‘n mens se verstand in twee. ‘n Snaakse stelling sal u miskien sê. Maar dit is presies wat die Griekse woord in byvoorbeeld Matteus 6 — wat ons met kommer vertaal — wil sê. Die Griekse woord wat hier gebruik word is merimnao, en bestaan uit ‘n samestelling van twee Griekse woorde, te wete: merizo (om te verdeel) en nous (verstand). Kommer verdeel ons energie tussen vandag se eise en môre se probleme. ‘n Deel van ons gedagtes en energie en krag gebruik ons om die hier en nou te hanteer, en die res konsentreer op wat môre gaan gebeur of dalk nie eers gaan gebeur nie. Met die gevolg? Ons het nie genoeg krag en energie om dit wat nou gebeur, sinvol te leef, te hanteer en af te handel nie.

Feit van die saak is, broers en susters, en ons almal weet dit, is dat kommer eintlik niks werd is nie. Eintlik vrugteloos. Jesus sê dit self in Matteus 6:27: kommer gaan jou lewe nie met een uur verleng nie, dit gaan jou omstandighede beslis nie verander nie. En ons weet dit is waar, broers en susters: kommer het nog nooit ‘n dag opgevrolik, of ‘n probleem opgelos, of ‘n siekte gesond gemaak nie.

Maar hoe dan nou gemaak, sal u wil vra? Want kommer is nou eenmaal maar met ons, sê ons maklik. En dit is beslis nie iets wat ons vir ‘n ander een kan gee om dit namens ons te doen nie. Kan ‘n mens, wil ons vra, werklik iets aan ons kommer doen? Ons kan, broers en susters, ons kan daarvan ontslae raak. En daar is nie ‘n beter plek om te begin om dit te doen as by Psalm 23:2 nie.

God bring my by waters waar daar vrede is, sê Dawid. En, baie baie belangrik, dan voeg hy by, Hy lei my op die regte paaie. Wat wil Dawid hier sê? God staan nie agter ons en sê vir ons: nou moet jy sus of so doen, of hierdie rigting of daardie rigting met jou lewe of besluite inslaan nie. Nee. God loop voor ons, en Hy wink vir ons, en Hy sê ‘kom’.

Hy loop voor ons uit om die pad vir ons skoon te maak, Hy sny die oorhangende takke wat ons kan seer maak af, Hy rol al die klippe uit ons pad, Hy waarsku oor die skerp draaie wat reg voor ons is, Hy sê: ‘draai hier af’. Voor die hoogtes in ons lewe waarsku Hy ons: ‘daar lê ‘n opdraande voor’ en as die pad glibberig raak, sê Hy vir ons: ‘wees versigtig’.

In kort: Hy lei ons. Hy sê vir ons wat ons moet weet wanneer ons dit moet weet. Presies soos Hebreërs 6:14 dit stel: ons kan met vrymoedigheid agter God aanloop, want Hy gee ons redding op die regte tyd.

Kom ek probeer dit vir u prakties verduidelik, broers en susters. Gestel u en u kinders gaan op ‘n reis oorsee. U gaan gedurende hierdie reis ‘n paar keer van een na ‘n ander plek toe moet vlieg. Wat maak ons? Gee ons vir ons kinders hulle paspoorte en vliegtuigkaartjies by die huis om uit hulle sakke te haal wanneer dit nodig is? Nee. Pa of ma hou al die paspoorte en vliegtuigkaartjies by hulle. En wanneer ons by die een of ander lughawe kom, roep ons die kinders bymekaar, hou hulle bymekaar, en gee aan elkeen van hulle die betrokke kaartjie net voor hulle moet instap. Elke kind kry sy kaartjie dus net betyds.

God sorg ook so. Ook Hy gaan staan tussen ons, tussen ons en ons behoeftes, en dan deel Hy uit op presies die regte oomblik. Is dit in elk geval nie presies die belofte wat Hy byvoorbeeld aan sy dissipels in Markus 13:11 gedoen het nie? Wanneer julle oorgelewer word, moet julle nie vooruit bekommerd wees oor wat julle sal sê nie, julle moet maar net praat soos die Heilige Gees dit vir julle op daardie oomblik sal sê.

Presies dieselfde boodskap het God byvoorbeeld ook vir Israel in die woestyn gegee. Hy het hulle belowe dat Hy vir hulle elke dag manna sal gee om te eet. En gesê: tel net genoeg op wat vir daardie dag nodig is. En die wat dit nie gedoen het nie? Wat het met hulle gebeur? Dit wat te veel opgetel was, het gevrot. Dit was onbruikbaar.

Dit, broers en susters, is hoe God ons lei. Hy laat die regte ding met ons op die regte tyd gebeur. Sodat ek elke dag kan geniet. Geloof is om dit werklik te glo, en so te lewe. Wat in wese beteken: kommer oor môre of oor nog wat kan nie werklik meer deel van ons lewens wees nie.

Dit is dan ook presies wat Matteus 6 vir ons sê: Julle het ‘n Vader in die hemel wat presies weet wat julle nodig het. Hy sal sorg dat julle dit alles kry. Stel God en sy koninkryk daarom eerste in julle lewens. God sal vir die res sorg. En los maar môre se probleme vir môre. Leef liewer vandag voluit vir God!

Almal van ons, broers en susters, glo ek, glo dit wat Matteus hier sê. Maar wat doen ons? Ons sê: Ek weet nie wat ek sal doen as my maat sterf nie. God sê: Jy sal weet, want Ek sal jou gee wat nodig is. Ons sê: wat sal ek maak as my kinders uit die huis is? Hoe gaan ek oorleef? God sê: jy sal weet wat om te maak en jy sal oorleef, want Ek sal jou gee wat nodig is.

Psalm 23 sê vanaand vir ons, broers en susters: die geheim van saamleef met al die kommer in ons lewens is eintlik eenvoudig: pak vandag met sy probleme met vandag se krag en energie aan. Moenie môre se probleme voor môre takel nie — jy het vandag nog nie môre se energie nie. Jy het net genoeg vir vandag. En as jy vandag se energie vir môre gebruik, gaan jy dit later nie maak nie.

Dit is dan ook presies wat Jesus in Matteus 6: 34 sê: God sal elke dag vir julle genoeg vir die dag gee. En los maar môre se probleme vir môre. Van probleme het elke dag immers genoeg. Leef liewer vandag voluit vir God!

Makliker gesê as gedaan, sal u miskien wil sê. Maar kom ons dink maar mooi, broers en susters. Het ons hier werklik ‘n keuse? Gee God vir ons ‘n kristalbal waarin ons die toekoms kan sien? Nee. Weet ons hoe ons môre gaan lyk? Nee. Kan ons ooit iets weet van dit wat volgende jaar presies met ons gaan gebeur? Nee.

Wat weet ons wel? Dat God ons tree vir tree lei en wil lei. En ons dae sinvol wil maak, nie ons morês en oormorês nie. God beloof ‘n lig vir ons pad, nie ‘n visioen oor die toekoms nie. En as dit is wat God gee, hoe kan ons dan dit anders wil hê?

Kommer en ongeloof gaan hand aan hand, soos vrede en geloof hand aan hand gaan. Ons leef in die geloof as ons met vandag se energie vandag se probleme hanteer en voluit lewe. Om egter vandag se energie vir môre te wil gebruik, is eintlik om te sê: Ek weet nie of God môre ook vir my daar sal wees nie. En dit, geliefdes, is ‘n lewe van ongeloof! 
Amen

Share via
Copy link
Powered by Social Snap