Die Rosettasteen word beskou as een van die belangrikste artefakte wat nóg ontdek is om die skrifstelsel van Egiptiese hiërogliewe te ontsyfer. Dié steen is op 15 Julie 1799 tydens Napoleon Bonaparte se veldtog in Egipte deur die Franse ingenieur Pierre Francois Xavier Bouchard ontdek terwyl hulle besig was om die nuwe fort Julien te bou in Rashid (Rosetta), ’n stad in die noorde van Egipte.

Aanvanklik is gedink dat die steen as ’n hoeksteen gebruik is by die konstruksie van Middeleeuse kerke of moskees. By nadere ondersoek is ontdek dat daar drie verskillende taaldialekte op die steen voorkom: Egiptiese hiërogliewe, Demoties en Grieks. Dié drie dialekte het gehelp om die dialekte van ou Egipte te ontsyfer. [Foto’s: Die Rosettasteen – die volle steen en die teks. © The British Museum]

Vir Napoleon Bonaparte was die ontdekking van die steen ’n groot vonds. Hy het sterk geglo dat hy ’n nasaat is van Alexander die Grote en dat dié steen ’n oorwinningstele van Alexander se militêre veldtogte in die Ou Nabye Ooste was. Nadat Napoleon in Maart 1801 die oorlog teen ’n gesamentlike mag van die Britte en die Ottomans verloor het, het die steen in Britse besit beland. Dit word tans in The British Museum bewaar.

Die Rosettasteen is van graniet en is 11,22 meter hoog, 7,57 meter breed en 2,84 meter dik. Die steen dateer uit die Hellenistiese tyd van 196 vC en is kort ná Ptolemeus V Epiphanes (205-180 vC) se kroning as koning in Memphis opgerig.

Dit het Jean-François Champollion 22 jaar geneem om die eerste woord in hiërogliewe ontsyfer te kry. Vir hierdie deurbraak het hy swaar geleun op die name in die Griekse en Demotiese teks wat op die klip verskyn het.

Inhoud van die Rosettasteen
Die inhoud van die teks dien as ’n dekreet wat uitgevaardig is om die goddelike kultus te bevestig. Die datum van die dekreet word in die Masedoniese kalender aangedui as 4 Xandikos, en in die Egiptiese kalender as 18 Mekhir. Dit is 27 Maart 196 vC, die negende jaar van Ptolemeus V se heerskappy.

Die agtergrond van die tyd waarin die dekreet uitgevaardig is, vertel van ’n geskiedenis wat uiters onstuimig verloop het. Ptolemeus V het die troon bestyg toe hy slegs vyf jaar oud was, nadat albei sy ouers vermoor is. Volgens literêre bronne uit daardie tyd was die vrou met wie Ptolemeus IV ’n buite-egtelike verhouding gehad het, Agathoclea, nou betrokke by die moordkomplot. Die samesweerders het Egipte daarna effektief onder die dekmantel as die vyfjarige Ptolemeus V se persoonlike voogde geregeer.

Twee jaar daarna het die leër se generaal, Tlepolemus, suksesvol ’n opstand teen die samesweerders gelei en Agathoclea, saam met haar hele familie, in Alexandria deur ’n bende laat ophang. In die tyd waarin die Memphis-dekreet uitgereik is, is Tlepolemus toe reeds deur die hoofminister, Aristomenes van Alizia, as voog aangestel.

Stele van hierdie aard wat deur die tempel uitgereik is en nie deur die koning nie, is uniek aan die Ptolemese regeringstyd in Egipte. Gedurende die farao’s se tyd sou so iets uiters ongehoord gewees het.

In die stele word vertel dat Ptolemeus V silwer en graan aan die tempel geskenk het. Verder word vertel dat die Nyl in ’n groot vloed afgekom het gedurende die agtste regeringsjaar van Ptolemeus V. Dié vloedwater is op so ’n wyse opgedam dat die boere daaruit voordeel kon trek. In erkenning aan Ptolemeus V se gebaar, het die tempelpriesters onderneem om elke jaar met die koning se verjaardag en die herdenking van sy kroning spesiale eer aan hom te gee.

Die dekreet sluit dan af met die versekering dat ’n kopie daarvan in elke tempel geplaas sal word in die taal van die gode, wat Egiptiese hiërogliewe sou wees, die taal van administratiewe dokumente, wat toe Demoties was, en in die Griekse taal, wat toe die omgangstaal van die Ptolemese ryk was.

Die feit dat die dekreet in Memphis uitgereik is en nie in Alexandria nie, bevestig dat die nuwe regeerders teruggeval het op die ou stad Memphis as hoofstad.

Die Rosettasteen het nie oorspronklik van die plek af gekom waar die steen gevind is nie. Dit het waarskynlik oorspronklik van ’n tempel gekom wat in opdrag van die Romeinse keiser Theodosius I in 392 nC gesluit is. Ou Egiptiese tempels is gedurende die Bisantynse tyd gebruik as uitgrawings waarop nuwe konstruksies gebou is. ’n Deel van die rots waarop die dekreet geskryf is, het ongelukkig afgebreek en dit wat oorgebly het, is nou bekend as die Rosettasteen.

Drie ander stele wat verband hou met die Memphis-stele is intussen ook gevind. Hulle is die Nubayrah-stele, ’n stele wat in Elefantine gekry is, en ’n inskripsie wat op ’n gedenknaald in die tempel van Philae gevind is.

Uit Egiptiese geledere word tans ’n verbete stryd gevoer dat Brittanje die Rosettasteen weer aan Egipte moet teruggee.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)