Haggai 2: 24

Oos-noordoos van Jerusalem, 1 500 km ver, is een van die antieke hoofstede van die Persiese Ryk, Parsa of Persepolis.

Hier het konings soos Kores, Darius I en Xerxes indrukwekkende geboue opgerig soos die paleis met sy apadana. Laasgenoemde is ’n groot wagsaal met klippilare. Toegang tot die wagsaal was deur middel van trappe met reliëfwerke daarop en die reliëf by Persepolis beeld 23 nasies uit wat hulde bring. Dit vertel iets van die Perse se selfverstaan.

Hulle was deeglik bewus van die groot ryke wat hulle voorafgegaan het, maar hulle het ook ’n nuwe visie. Hul ryk is gebou op orde, harmonie en wedersydse respek, daarom lei Persiese amptenare die afvaardigings aan die hand na die troon. By die Poort van alle nasies het Xerxes verklaar … ons het hierdie gebou met die hulp van Ahuramazda en by Darius se graf lui die inskrywing … solank hierdie in stand gehou word sal die Perse voorbestaan. Dit herinner aan die gedig Ozymandias – my naam is Ozymandias, koning van konings, kyk na my werke en sidder.

Die profeet Haggai het ook ’n boodskap. Aan die einde van sy 100 dae sluit Haggai sy prediking af met ’n boodskap vir die toekoms. Serubbabel sal die Here se seëlring wees. Seëlringe het ’n besonder betekenis, dit is uniek aan die eienaar en bekragtig die egtheid van briewe of aktes. Hier kondig Haggai aan dat die volk van God aan hom behoort, sy kerk is die seëlring aan sy regterhand en geen mag in die wêreld sal dit van Hom wegruk nie. Haggai verseker die gelowiges dat die Heer hulle sal bewaar te midde van al die magtiges, selfs die magtige Persië.

Soos wat ’n seëlring van besondere waarde vir die eienaar is, so is die Here besorg oor die uitverkorenes. Dit bied opnuut aansporing aan die kerk, aan die gemeente. Die Here sal ons bewaar al stapel daar hoeveel magte teen ons op.

Hierdie versekering roep die gemeente, elke gelowige egter ook toe – moenie die bouwerk, die diens aan die Here geringskat nie. Die werk van die Here is nie tevergeefs nie.

Dr Christo Pretorius, Pretoria / Hervormde Teologiese Kollege