Efesiërs 1: 15-23

Moeg, moedeloos, uitgebrand, verdwaal en onseker. Woorde wat baie mense se lewe beskryf. Ons leef in ’n era waarin mense soekend is. Mense vra na die sin en betekenis van die lewe. Dit voel somtyds dat hoe meer gevorderd ons raak, hoe meer agter raak ons. Die lewe het soos ’n doolhof geword waarin baie verdwaal het.

Wanneer Paulus aan die gemeente in Efese skryf, skryf hy dat hy vir hulle die wysheid en die krag van Jesus Christus toebid. Hy bid dat hulle sal besef dat hul hoop in die Here is. Wat egter belangrik is, is dat hulle sal besef dat die krag waarmee Christus uit die dood opgestaan het ook in elkeen van hulle werk.

Die krag van die opstanding het die mag van die dood oorwin en dieselfde krag werk vandag ook in ons. Soos wat die dood nie bestand was teen die krag van Christus nie, so is daar ook vandag niks bestand teen die krag van Christus nie. Die krag wat die dood oorwin het, onderwerp ook elke mag en gesag aan Christus en Hy voer heerskappy oor alles en almal.

Die krag van Christus se opstanding stel ons in staat om met krag te lewe. Hy gee ons die krag van ’n arend om bo die uitdagings van die lewe uit te styg. Dit is die krag van Christus se opstanding waarmee ons die ekstra myl loop en ook die ander wang draai. Dit is hierdie krag waarmee ons elke dag mekaar vergewe en wat vrede en versoening bring. Dit is die krag waarmee ons getuig dat Christus lewe en ook ons vyande liefhet. Dit is die krag wat hoop en lewe gee en wat die Lig laat skyn in ’n donker wêreld. Alles verander met Jesus Christus se opstanding.

Voel jy verward, verdwaal en moedeloos? Ons het nou ’n Lewende Hoop wat groter is as enige mag of krag. Mag ons rus en vrede in ’n verwarde wêreld vind. Vrede wat alle verstand te bowe gaan.

Dr Martin Jansen van Rensburg, Delmas