Handelinge 4: 23-31

Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het met vrymoedigheid die woord van God verkondig (Hand 4: 31b).

Het julle dan nie geleer nie? ’n Vraag wat na beide kante aan die dissipels sowel as die priesterhoofde, die tempelwag en die Sadduseërs gevra sou kon word.

Dit het nie lank gevat nie toe is Petrus en Johannes in die moeilikheid. Hulle eindig op in die tronk en word summier met dreigemente verbied om nie in die Naam van Jesus met iemand te praat nie. Oortuig van dit waarin hulle glo, stel Petrus en Johannes dit duidelik dat dit onmoontlik is om nie te praat oor wat hulle gesien en gehoor het nie. Na hulle vrylating het Petrus en Johannes saam met hul medegelowiges tot God gebid dat hulle met nog meer vrymoedigheid die Woord sal verkondig en hulle is almal met die Heilige Gees vervul en was daartoe in staat om dit waarvoor hulle gevra het te kan verrig.

Ons weet dat alles in ons lewe nie altyd seepglad verloop nie en met ons geloof verskil dit ook nie. Daar is tye wat dit vir ons voel dat die berg eintlik net ’n molshopie is en ander kere weer voel dit of die sandkorrel in die pad ’n onoorkombare struikelblok is. Of ons die omstandighede in ons lewe lag-lag kan aanpak en afhandel en of dit na die grootste uitdaging ooit lyk, ons moet God in alles met ons saam neem. Bid is nie net bedoel vir die moeilike tye in ons lewe nie en God is nie net bestem om die noodknoppie te wees wanneer ons Hom nodig het nie. Ons moet Hom in alles vertrou, ken en eer.

Die gebed van gelowiges vind God waar sy Gees oor die waters sweef, dit vind Hom in die stilte en ook in die sagte fluister van die wind. Ons vind Hom in ons seer en ook in ons vreugdes, ons vind Hom daar waar ons alleen is en daar waar ons uitbundig saam met ander verkeer. By die krip, die kruis, die kroon, vind ons Hom en in ons gebed ontdek ons weer dat Hy ons lankal reeds gevind het.

Ds Jaco Vogel, Rooihuiskraal