1 Korintiërs 6: 19-20

Die Bybel herinner ons dat ons liggame ’n tempel van die Heilige Gees is soos wat ons in 1 Korintiërs 6: 19 lees: Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en behoort nie aan julleself nie.

Daarom het ons die verantwoordelikheid om na ons fisiese en geestelike welsyn om te sien. Oefening is nie net goed vir ons fisiese gesondheid nie, maar dra ook by tot geestelike balans en innerlike vrede.

Wanneer ons oefen, ervaar ons hoe wonderlik God ons liggame geskep het die beweging van spiere, die ritme van asemhaling en die krag wat ons ontwikkel, is alles bewyse van meesterlike ontwerp. Deur gereeld te oefen, eer ons die liggaam wat die Here aan ons toevertrou het.

Maar oefening is meer as net fisiese aktiwiteit dit moet ook geestelik wees. Ons moet ook geestelik oefen deur tyd in gebed, Bybelstudie en gemeenskap met ander gelowiges deur te bring. 1 Timoteus 4:8 sê: Om jou liggaam te oefen, het wel ’n bietjie waarde, maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde, want dit bevat ’n belofte van lewe, vir nou en die toekoms.

Dit wys hoe belangrik dit is om ’n gebalanseerde lewe te lei wat beide liggaam en gees versterk.

Laat oefening jou vandag ’n herinnering wees dat ons doelbewus na gesondheid en geestelike groei moet streef. Mag jy vandag in beweging kom en nadink oor jou gesondheid maar, mag jy ook in alles wat jy vandag doen die koninkryk van God soek en beleef.

Lees gerus: Gesang 471: Soek allereers die koninkryk van God.

Soek allereers die koninkryk van God;

En sy geregtigheid.

Wat julle nodig het sal die Vader dan

Vir julle gee uit sy oorvloed.

Halleluja! Halleluja!

Halleluja!

Amen. Amen.

Dr Antionette Janse van Rensburg, Universiteit van Pretoria / Montana