Galasiërs 5: 22-23
Die laaste sewe dae het ons saam met mekaar geleer oor die werk van die Heilige Gees en hoe dit neerslag vind in ons alledaagse lewens. Nou wil ek vir die Here dankie sê vir die wonderlike gawes wat Hy vir my gegee het!
As ek graag vir die Here dankie wil sê, wat is die beste manier om dit te doen? Moet ek tot die Here bid, met mense daaroor praat, probeer om gehoorsaam te wees? Dis alles reg en ons moet dit doen, maar dalk is daar ’n beter manier. Kom ons dink aan ’n praktiese voorbeeld: As ek vir my kinders ’n geskenk koop en hulle gebruik dit, hoe laat dit my voel? Dit laat my goed voel! My seun maak my mal met sy Lego’s, hy raak nie uitgespeel nie, kyk wat het hy nou weer gebou. Dis mos ’n lekker gevoel. My dogter kan nie uitgepraat raak oor daardie mooi boek wat sy vir Kersfees gekry het nie. Die skool het nog nie eers begin nie en sy het dit al twee keer gelees. Dít laat my goed voel! Daardie sportklere, krieketkolf, hardloopskoene vergaar nie net stof nie. Selfs al was dit duur, dit laat my voel of dit die moeite werd was. Beteken dit nie op so ’n manier iets vir die Here ook nie?
Die Here gee vir my liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Die beste manier om vir die Here dankie te sê, is om die gawes te gebruik waarmee Hy ons toerus. As ek opgewonde daaroor raak, as ek daarmee werk, as ek iets daarmee doen – dan sê ek vir die Here dankie!
Gebed
Here, vandag wil ons vir U dankie sê vir die gawes van u Heilige Gees. Help my om hierdie gawes aan te neem, u lig te laat skyn en u Naam te eer. Amen.
Ds Pieter Rossouw, Mafeking / Zeerust