Johannes 14: 12-14
Een verkeerde wagwoord, en jy’s uitgesluit – of dit nou jou bankrekening, ’n aanlyn betaalplatform, of jou selfoon se PIN is. Ek het dit onlangs self ervaar: drie keer na mekaar my bankwagwoord verkeerd ingetik en toe is my aanlyn profiel gesluit. Geen toegang nie. Die enigste opsie? ’n Rit na die naaste tak waar ek aan die bankkonsultant verduidelik dat dit ’n eenvoudige ID-ten-T-foutjie was wat my tot by haar gebring het. Sy het effens verward gekyk, en toe ek vir haar sê: Skryf dit neer: I-D-1-0-T, het sy skielik verstaan en lekker gelag.
Ons leef in ’n wêreld waar toegang alles bepaal. Sonder die regte profiel, kode of identifikasie bly jy buite. En tog – net ’n naam, net die regte inligting op die regte plek, en ’n wêreld van moontlikhede gaan oop.
Jesus sê iets soortgelyks, maar oneindig dieper, in Johannes 14: 13: Wat julle ook al in my Naam vra, dit sal Ek doen…(Joh 14: 13). Hy sê ook: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen… (Joh 14: 12).
Wat beteken dit? Is dit ’n onbeperkte belofte – dat ons net in Sy Naam moet vra en Hy sal dit doen?
Die sleutel lê in daardie frase: in My Naam. Dit beteken nie om net ’n gebedsformule te bid nie. Dit beteken om te vra in lyn met wie Jesus is – sy wil, karakter, liefde, en missie. Dit vra van my om in verhouding met Hom te leef, en sy wil na te streef. Dit gaan nie oor eiebelang nie.
En die groter werke? Dis nie groter in krag as wat Jesus self gedoen het nie, eerder groter in reikwydte en impak. Dink maar aan Jesusvolgelinge wat die evangelie tot die eindes van die aarde versprei. God se Gees gebruik gewone mense om hierdie wonderwerk te vergestalt.
Hierdie woorde is nie ’n magiese formule nie. Dis ’n uitnodiging tot ’n geloofsverhouding waarin ons met vrymoedigheid vra – maar altyd in Jesus se Naam en met die versugting dat sy wil sal geskied.
Dr André Ungerer, Hervormde Teologiese Kollege