2 Tessalonisense 1: 1-4 en 11-12
Die teks fokus op vers 2: Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!
Genade vir ons en vir die gelowiges orals. Genade vir ons en hulle wat so arm is dat daar nie genoeg is om van te leef nie, vir ons en hulle wat in hierdie wêreld misluk het. Genade vir ons en hulle wat lei aan siektes wat ongeneeslik is, wat geen vriende het nie en deur die samelewing verag word. Genade vir ons en hulle wat deur ons eie dade ons liggame en lewe verwoes het.
Anders gestel, met hierdie woorde genade vir julle. word nuwe moontlikhede oopgesluit – ’n toekoms verbeel, hoop uitgespreek en ’n pad van omgee getap.
Saam met die genade word vrede uitgespreek: Vrede vir julle. Vrede vir ons en die gelowiges oraloor. Vrede vir ons en hulle wat in vrees vir hul lewe leef. Vrede vir ons en vir hulle wie se lewe spreek van hartseer en tekort, swaarkry en bekommernis. Vrede vir ons en vir hulle wat eensaam is, verlang na ons geliefdes. Met hierdie woorde, vrede vir julle, word ’n nuwe werklikheid geskep en nuwe moontlikhede geopen.
Nou is daar vrede wat die verstand te bowe gaan en nie sin maak vir die wysheid van ons wêreld nie.
Hierdie genade en vrede is vreemd, want dit is deel van elke gelowige se lewe ongeag of dit goed of sleg gaan in die wêreld. God se vrede en genade word nie deur ons menslike omstandighede bepaal nie. Dit is genade en vrede wat van God kom. Ons Vader en die Here Jesus Christus. Hierdie hulpbronne van genade en vrede kom van die Een wat hemel en aarde geskep het. Dit kom van die Here Jesus Christus, te vind in die hemelse troonkamer, sittende aan die regterhand van God die Vader, wat vir ons pleit en van die Heilige Gees wat met ons is. Ons krag, ons Trooster. Genade en vrede vir elkeen.
Ds Denise Schmidt, Jeffreysbaai / Port Elizabeth