Lukas 24: 13-25

Twee van Jesus se volgelinge stap die Sondag na Jesus se opstanding die ongeveer sewe myl van Jerusalem af na die dorpie Emmaus. Waar Emmaus geleë is, kan ons nie met sekerheid sê nie. Soos die meeste feesgangers was hul op pad huis toe na die Pasga. Ons lees dat Jesus die onbekende wandelaar word wat met hulle saamloop om die beloftes van die Skrif aan hulle te verduidelik.

In die afgelope tyd het camino’s dwarsoor die wêreld baie gewild geword. Camino kan vertaal word met weg. Een van die redes hoekom pelgrimstogte so gewild is, is dat baie mense wat baie tyd in stede spandeer en min stap weer die vreugde en genot van stap in die natuur herontdek. Om te wandel is anders as om gejaagd te stap net om jou eindbestemming so vinnig as moontlik te bereik. Wandel gee jou tyd om te dink, te reflekteer en in te neem. Jesus stap saam met die Emmausgangers en op die pad leer Hy hulle ken. Ek kan my voorstel dat Jesus en die Emmausgangers nie gejaagd gestap het nie, maar dalk praat-praat, en leer-leer gestap het. Ek vermoed Jesus en die Emmausgangers het nie net gestap nie, maar dalk eerder gewandel.

Die teoloog Kosuke Koyama skryf dat God stadig loop: God walks ‘slowly’ because he is love. Love has its own speed. It is an inner speed. It is a spiritual speed. It is slow yet it is lord over all other speeds since it is the speed of love.

Wanneer ons die tempo van ons stap heeltyd versnel, loop ons soms noodsaaklike dinge mis. Soms moet ons stadig stap sodat ons bewus kan raak dat Iemand Anders met ons saam stap en saam praat. Jy hoef nie ’n camino te gaan stap om stadig saam met God te stap nie. ’n Stadige oggendstappie in jou buurt of in jou omgewing is die ideale tyd om met God saam te stap en sy natuur opnuut te waardeer.

Almal van ons is elke dag ’n reisiger. Ons loop, ons ry, ons vlieg, ons jaag. Stap stadig sodat jy die Een wat saam stap kan herken.

Ds Lydia Miller, Villiers