Handelinge 16: 6-10

Wanneer ons die Heilige Gees ontmoet en ontvang het, kan ons die Gees in verhouding leer ken en tot ’n baie beperkte hoeveelheid iets van die Gees verstaan. Ons kan die werking van die Gees beleef en vertrou en daarom kan ons gelei word deur die Gees.

As mense is ons dikwels so besig met ons eie beplanning. Ons raak so besig met dit wat ons wil doen, ons planne, ons drome, ons ideale dat ons vergeet om vir die Here te vra wat sy wil is. Watter planne, drome en ideale het God vir ons?

Dit is nie verkeerd om ons eie planne, drome en ideale te vorm nie. Ons moet wel deurlopend met God in gesprek wees daaroor en deurentyd bewus bly van die leiding van sy Gees.

Selfs Paulus die bekende apostel het sy eie planne gehad. Besig met die werk van die Here besluit Paulus dat hy Asië toe gaan. Paulus beweeg na die grens van Misië en probeer om oor te gaan na Bitinië. Hierdie gebied is in noord-oostelike Turkye net onder die Swartsee op pad na Asië. Hierdie plan en droom van Paulus het nooit gerealiseer nie, omrede die Heilige Gees hom gekeer het.

Die Heilige Gees keer Paulus om Asië toe te gaan, maar stuur hom na die Weste wat ons vandag as Europa ken. Die plan en die droom van die Here was dat Paulus na daardie tyd se Macedonië toe moes gaan.

Paulus het die Gees van God gehoorsaam en sy tweede sendingreis bring die geloof in Jesus Christus hom orals waar die Gees hom lei. 

Ons kan soos Paulus luister na die leiding van die Heilige Gees en saam met die werking van die Gees werk na die drome en ideale wat God vir ons het. 

Gebed

Here help my asseblief om die leiding van die Heilige Gees te vertrou en getrou te volg. Amen.

Ds Michael A Müller, Potchefstroom-Studente