Efesiërs 5: 6-20
Elke gelowige sukkel met die maak van die regte keuse, want, alles draai om die eie-ek. In ’n wêreld waarin daar soveel skakerings van wit en swart is, ontstaan daar ook ’n groot grys gebied waar dit al moeiliker raak om tussen reg en verkeerd te onderskei. Daarom speel die Woord ’n belangrike rol in die maak van keuses. Maar selfs dit is nie so eenvoudig nie.
Gelowiges moet ’n radikale keuse maak, want dit gaan om lig teenoor duisternis, die wêreld teenoor Christus en uiteindelik om die eie-ek teenoor Christus! En hierdie keuse moet geleef word. Nie net met die verstand of in die gedagtes nie, maar ook in die praktyk van hulle daaglikse lewe. Hoe hulle teenoor mekaar optree, met mekaar praat, hoe hulle verhoudings binne die gesin, werkplek ensovoorts lyk.
Paulus dring by ons daarop aan om te lewe volgens die lig wat God in sy Woord vir ons openbaar het. Hy wil hê dat ons alles in ons vermoë sal doen om agter te kom wat God se wil is, om daarvolgens te lewe.
Die regte lewenstyl is belangrik. Die een dra die goedkeuring van die wêreld weg, maar eindig in die ewige dood. Die ander dra die goedkeuring van God self weg, en eindig in die ewige lewe. Die een baat die terreine van die huwelik, gesin en werkplek. Die ander skaad die terreine van die huwelik, gesin en werkplek.
En dit is binne hierdie lewensbelangrike keuse van lewenstyl wat die vervulling deur die Gees so belangrik is. Want, Hy maak ons nie net vol met Homself en met die vrug en die gawes van die Gees nie, maar Hy help ons ook om van ‘n losbandig lewe ontslae te raak en ‘n dankbare lewe vir die Here te lewe.
Ons word aangemoedig – leef God se lig in ’n donker wêreld. Jy is nie alleen nie, daar is baie ander wat dit ook doen. En elke klein bietjie lig bevestig net weer – God se lig kan nie uitgedoof word nie.
Ds Heloise Herbst, Rietvallei