Openbaring 2: 1-7

Ons het hierdie week afgeskop met die storms in ons geloofslewe en selfs die storms in kerkwees. Oor die laaste deel van die week het ons gewonder oor gelowigwees en kerkwees as die Here nie die storm dadelik stilmaak nie. Die Here het in sy almag altyd sy tyd en sy plek vir storms stilmaak. Dit verskil egter dikwels van my tyd en my plek en my manier. Tog kan elkeen van ons sekerlik getuig dat God iewers in die verlede al ’n storm (of storms) in my lewe stilgemaak het. Ook die kerk kan getuig van talle storms in die geskiedenis wat deur God tot bedaring gebring is. Ons het verder besef dat ons in die tussentyd daarop moet fokus om inkarnerend, missionaal, relasioneel en intensioneel gelowig en kerk te wees.

Johannes se brief in Openbaring aan die gemeente van Efese wil iets leer van intensioneel gelowigwees/kerkwees. Ons sou intensioneel ook kon vertaal met gefokus, doelbewus of doelgerig. Die brief is gerig aan die leraar van die gemeente en dit dui op die leierskap wat ’n bepaalde verantwoordelikheid ten opsigte van die gemeente se bediening en diens het. God wat alles weet sien hul harde werk, ook dat hulle baie verduur vir die Koninkryk van God. Tog is daar iets in hierdie gemeente aan die gebeur wat aandag verg: Hulle het God nie meer so lief soos aan die begin nie. Hoe kan so iets gebeur? Dit is duidelik dat hierdie gemeente hul ware fokus verloor het. Hulle het besig geraak met die dinge van die Here en in die proses die Here van die dinge vergeet. Hulle is nie meer intensioneel lief vir God nie en daarom het hulle van Hom begin wegdryf.

Hierdie waarskuwing aan die lidmate en gemeente van Efese kom vandag hard en duidelik na ons en ons kerkwees. Ons werk nog hard en doen baie dinge. Ons verafsku wat verkeerd is, maar het ons die Here van dit alles nog so lief soos aan die begin? Is ons intensioneel, gefokus, doelbewus en doelgerig lief vir God, die hoof van die kerk?

Dr Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein / SGB Interimbegeleiding