2 Korintiërs 3: 17

Die Gees is nie staties nie. Waar die Gees van die Here is, daar is vryheid – vryheid om te beweeg, te groei, en te leef in die wil van God. Wanneer die Gees se stem hard genoeg in ons praat, bly ons nie dieselfde nie. Ons word aangepor, uitgedaag, getroos in ons reis, en toegerus om meer en meer soos Christus te word.

So, nou is die vraag, is jou skoene aan?

Kan ons met vrymoedigheid ons gereed maak vir ’n vernuwende reis saam met die Gees.

Na hierdie week se oordenkings hoop ek dat dit duidelik is dat Pinkster ons daaraan herinner dat die Heilige Gees nie ’n stil, verborge teenwoordigheid is nie, maar ’n kragtige, lewende werking van God wat mense aan die beweeg bring. Van die eerste oomblik toe die Gees op die dissipels uitgestort is, het daar beweging gekom – van vrees na vrymoedigheid, van afwagting na aksie, van isolasie na gemeenskap.

Die Gees is nie staties nie. Wanneer Hy in ons woon, bly ons nie dieselfde nie. Hy por ons aan, daag ons uit, troos ons in ons stryd, en rus ons toe om meer en meer soos Christus te word. ’n Lewe in die Gees is ’n lewe van beweging – nie in ons eie krag nie, maar in sy teenwoordigheid.

Mag ons in Pinkstertyd weer oop wees vir die Gees se werk, en bereid wees om te beweeg… waar Hy ook al lei. Mag ons met vrymoedigheid die vryheid wat die Gees bied, ’n verskil in ons harte beleef. ’n Verskil in ons manier van beweeg beleef. En ’n verskil in ons manier van bedien beleef.

Gebed

Gees van die lewende God, kom opnuut na my.

Vorm my, vul my beweeg my deur U liefde, deur U krag.

Deur U Gees.

Amen.

Ds Leanie Lemmer, Bellville