1 Petrus 4: 7-19

Dit is onaanvaarbaar dat ’n mens dink daar is verworpenes, (teenoor uitverkorenes) wat nooit die versoening van Jesus sal smaak nie. Jesus was die finale verworpene, ook vir hulle…

’n Uitverkore kind van God kan nooit by ’n punt kom om enige mens as te sondig om gered te word te sien nie. So ’n denkrigting by mense wat maar self net uit genade gered is, is onhoudbaar. In die lig van 1 Petrus 4: 17-18 kan ons dan net sê dat as daar sulkes is wat nooit tot die geloof kom nie, Jesus nogtans hulle verwerping op Hom geneem het, en daarom het God dan ook die finale en ganse oordeel aan Hom oorgedra. Hy, Jesus , wat verkies het om al die straf op Homself te neem.

Vir ons is die opdrag gegee om dissipels te maak deur te doop en te leer. Ons getuig van die uitverkiesing in Jesus Christus vir alle mense. Jesus is die uitverkorene van God deur wie alle mense wat in Hom glo van hul eie uitverkiesing seker kan wees. ’n Mens wat deur geloof aan Jesus Christus vashou neem dan deel aan sý uitverkore posisie. Hulle sal lewe omdat Hy lewe. En hierdie lewe is ’n lewe van diens, soos Hy gedien het. Hulle het nou een roeping: Soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur; en ter wille van hulle wy Ek My aan U toe, sodat hulle ook deur die waarheid aan U toegewy kan wees (Joh 17: 18).

Die ander, hulle wat nog nie in Jesus Christus glo nie, mag nooit deur gelowiges verwerp of uitgesluit word nie, maar moet gedurig geroep en gedien word sodat hulle ook deur die roeping van Jesus bereik kan word en deel kan word van die uitverkorenes van God.

Hoe meer gelowiges bewus word van die naderende koms van die koninkryk van God, hoe dringender raak die oproep tot getuienis teenoor en diens aan die wêreld.

Ds Barrie Oberholzer, Grootfontein / Tsumeb