Miga 6: 8
Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is … dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God. (Mig 6: 8).
Die profeet Miga was ’n profeet in Juda en leef in ’n tyd van groot onreg – rykes onderdruk armes, leiers misbruik hul mag, die volk dink hulle kan God omkoop met offers, terwyl hul harte ver van Hom is. Die wet van God word verdraai en daarom word hierdie hoofstuk geskryf. In Miga 6 herinner God die volk aan sy trou en Hy sê: Ek soek nie jou offers nie. Ek soek jou lewe.
En dan volg dié kort maar kragtige opsomming van wat die Here van sy mense vra: Doen reg. Bewys liefde. Wandel nederig saam God.
Hierdie is ’n beeld van Koninkryklewe in praktyk. Die Hebreeuse woord Mishpat verwys juis na sosiale geregtigheid, wat vereis dat mens opstaan teen onreg, eerlik moet wees in jou werk en reg sal leef al is dit nie maklik nie. Dit is dan ook wat hierdie gedeelte van ons vra, want geloof gaan nie oor groot woorde, die aanhaal van Bybelversies of uiterlike vroomheid nie, maar oor dade van geregtigheid en ontferming. Dit gaan oor opregtheid. God verkies gehoorsaamheid bo offers en rituele, God verkies ’n lewe wat sy karakter reflekteer.
Daarom is hierdie teks ’n goeie toets vir enige gelowige: Is my geloof sigbaar in hoe ek mense behandel? Want die Koninkryk van God kan nie funksioneer deur voorgee nie. Ons word opgeroep tot ’n lewende geloof – ’n geloof wat sigbaar is in hoe ons leef, werk, lief het en keuses maak.
Ons stukkende wêreld hunker na mense wat opreg lewe. Mense wat nie net glo nie, maar koninklik optree in die alledaagse. Mag ons vandag (en elke dag) streef om eerlik te wees, om doelbewus liefdevol te wees. Mag ons genade aan ander bewys en sigbaar leef, werk en keuses maak.
Ds Yolandé de Lange, El-Flora