Johannes 16: 5-15

Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou dra nie. (Joh 16: 12).

Jesus sê vir sy dissipels dat Hy binnekort van hulle af weggaan – en dat dit eintlik tot hulle voordeel is. Want eers dan wanneer die Gees van waarheid kom, sal hulle in die volheid van waarheid gelei word. Maar Hy sê ook iets opvallend: Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou dra nie. Hierdie woorde nooi ons uit tot ’n nuwe prentjie van God – nie as Iemand wat klaar gepraat het nie, maar as Iemand wat aanhou praat, aanhou wys, aanhou vorm.

God se openbaring is nie afgehandel nie. Dit is ’n deurlopende uitnodiging tot groei, verdieping en transformasie. Ons verstaan van God is altyd tydelik, altyd op pad, altyd besig om te ontwikkel. Wanneer ons dink ons het God vasgevang of volledig verstaan, begin ons eintlik om ’n afgod van ons eie idees te maak.

Die Heilige Gees is die teenwoordigheid van God wat ons in elke nuwe tyd en konteks kom leer, lei en vernuwe. Die Gees herinner ons aan Jesus, maar verruim ook ons verstaan van Hom. Ons word uitgenooi om nederig te luister – na die Skrif, maar ook na mense, na geskiedenis, na die wêreld en die lewe self. God se stem klink nie net uit die verlede nie, maar ook in die hede.

Praktiese toepassing: Lees vandag iets – ’n teks, ’n artikel of selfs ’n gesprek – wat jou prentjie van God uitdaag. Moenie dadelik oordeel of wegskram nie. Luister, dink, skryf neer wat dit in jou aanwakker. Laat die Gees jou vorm.

Gebed

Spreek Here, ek wil luister – selfs al verander u stem my prentjie van U. Vorm my hart en denke in u waarheid. Amen.

Ds Johnny Young, Rustenburg-Tuine