Psalm 100

In ’n wêreld vol verkillende opinies, waar mense ver van mekaar af leef, ’n wêreld waar vertroue amper iets van die verlede is, is dit so spesiaal wanneer ’n groep mense bymekaar kom om een Here te loof en te prys. Dit is juis as gevolg hiervan dat ons geloofsgemeenskappe so spesiaal is. Ons kom nie in ons eie naam bymekaar nie, maar ons kom in die Naam van die Here bymekaar wat almal van ons bymekaar roep.

Psalm 100 roep ons om met blydskap, met lof en met dankbare harte na God toe te kom. Ons loof Hom nie omdat ons lewens altyd maanskyn en rose is nie, maar omdat Hy getrou bly. Ons loof Hom want Hy is ons Vader en ons behoort aan Hom.

Om bymekaar te kom en God te loof en prys, ten spyte van ons verskille, is ’n kragtige getuienis vir die wêreld. Dit getuig daarvan dat daar steeds hoop, eenheid en liefde is, daar waar Jesus Christus regeer.

Wanneer ons saam sing, saam bid en saam jubel word ons opnuut herinner dat God goed is, en dat sy troue liefde vir altyd en altyd aanhou.

Die Psalm roep alle gemeentes en alle mense regoor die wêreld saam om die Here se naam te roem. Kom ons lewe vandag as mense wat in alles wat ons doen die Here dank vir alles wat Hy in ons lewens doen! Kom ons loof en prys die Here want hy is goed; aan sy liefde is daar geen einde nie!

Gebed

Here, U is goed, aan u liefde is daar geen einde nie. Ons dank U vandag omdat ons hier op die suidpunt van Afrika, U saam as ’n gemeenskap van gelowiges kan loof en prys. Maak ons harte vol blydskap en dankbaarheid vir U. Gee dat ons lewens ’n loflied vir U sal wees.

Amen.

Ds Drian Cockeran, Bronkhorstspruit