Verbeel jou vir ’n oomblik jy stap vir die eerste keer deur die besige strate van Johannesburg se middestad. Die stad voel groot, onbekend en amper oorweldigend. Langs jou stap ’n goeie vriend. Later deel julle jul ervaring met mekaar. Jy vertel hom van die onsekerheid wat jy gevoel het, die spanning en hoe jy klein en uit jou plek gevoel het. Maar tot jou verbasing beskryf hy dit heeltemal anders. Vir hom was die stad lewendig, vol moontlikhede en geleenthede. Twee mense kan na dieselfde werklikheid kyk, dieselfde gebeurtenis beleef en dit totaal anders beleef.
Dit is presies die geval in Numeri 13: 26-33. Die verkenners het almal dieselfde land verken. Hulle het dieselfde mense en dieselfde uitdagings waargeneem. Tog het sommige van die manne hulself as sprinkane tussen reuse geag – klein, swak en magteloos. Maar Josua en Kaleb het daarna met geloof eerder as vrees gekyk.
Die vraag waarmee hierdie teks die aanwesiges tydens dr Hannes Janse van Rensburg se openingsboodskap gekonfronteer het, was dus: Sien jou NWO hulself as sprinkane te midde van hul uitdagings, of funksioneer die organisasie vanuit God se belofte? Die vergadering is uitgenooi om hul organisasies opnuut te ondersoek, maar nie vanuit ’n plek van moedeloosheid nie, maar eerder vanuit ’n geloofsperspektief. Die gesprek is gekenmerk deur hoop, roeping en God se belofte.
Verskeie niewinsgewende organisasies (NWO’s) wat aan die Kerk verbonde is, het op 23 Mei byeengekom om saam te dink oor die toekoms en moontlike samewerking. Hierdie organisasies het die DPS-pleegsorghuise, Ons Tuis tehuise, TOIBO, Plesion, Khesed, Rata Maatskaplike dienste en die NHSV ingesluit.
Die missionale karakter van die liggaam van Christus het soos ’n goue draad deur die gesprekke geloop. Daar was ’n duidelike bewustheid dat barmhartigheidswerk nie net oor strukture of administrasie gaan nie, maar oor mense, roeping en die sigbaarheid van God se teenwoordigheid in ’n gebroke wêreld. Tydens die dinkskrum het diaken Andries Pretorius ’n betekenisvolle waarneming gemaak: hoewel God nie eksplisiet in die teksgedeelte van Numeri 13 genoem word nie, is sy teenwoordigheid implisiet ter sprake. Hierdie perspektief het die vergadering herinner dat die uitdagings van die organisasies nie die finale woord het nie.
Die oproep was daarom duidelik – die NWO’s van die Kerk moet hulself nie as sprinkane ag nie. Hul identiteit lê nie in hul beperkinge nie, maar in God se belofte. Verskeie belangrike rigtingwysers vir toekomstige samewerking het tydens die vergadering na vore gekom.
Wat veral bemoedigend was, is die sigbare bereidwilligheid van die verskillende organisasies om hande te vat. In ’n tyd waar individualisme maklik oorheers, het hierdie byeenkoms iets van ware kerk-wees weerspieël – gelowiges en organisasies wat saam dink en droom! Die voorsitter, dr Martin Jansen van Rensburg, het dit treffend verwoord toe hy uitgelig het dat elke NWO deel vorm van dieselfde liggaam van Christus. Vanuit dié opmerking het hy die eenvoudige, maar diepgaande vraag gevra: Hoe kan ons mekaar beter ondersteun? Miskien lê die grootste waarde van die dag in ’n herontdekking van eenheid en gedeelde roeping opgesluit.
Uiteindelik bly die vraag waarmee ons gekonfronteer word steeds dieselfde: Sien ons net die reuse, of onthou ons saam met Wie ons stap?
Hooffoto:
Voor vlnr: – Diak Otto Nel (Komitee vir Diakonaat), dr Charmaine Fourie (Rata Maatskaplike dienste), diak Wilna Gates (Komitee vir Diakonaat), dr Sanrie de Beer (Komitee vir Diakonaat), dr Martin Jansen van Rensburg (Komitee vir Diakonaat)
Middel vlnr: Ds Stephen de Beer (Plesion en Khesed), Sanet van Wyk (NSHV), Mari-lizé Beukes (NHSV & Ons Tuis tehuise), Alta Koekemoer (TOIBO)
Agter vlnr: Ds Jimmy Manders (DPS-pleegsorghuise), Otto Viljoen (DPS-pleegsorghuise), diak Andries Pretorius (Komitee vir Diakonaat), dr Hannes Janse van Rensburg (SGB), di Gerhard Stoltz (Komitee vir Diakonaat), Frikkie van Wyk (Ons Tuis tehuise)
Ds Iwana Kruger (Pretoria-Oos en NHKA-joernalis)