’n Uiters skaars olielamp wat van brons gemaak is, is in Mei 2021 in die Ou Stad van Dawid ontdek. Dié lamp is in die fondasie van ’n gebou bokant die pelgrimspad tussen die Siloambad en die tempel ontdek – wat dié lampie ’n item van groot belang maak.

Die lamp is van brons gemaak en slegs die helfte so groot as die normale lampies wat gebruik is om lig te maak. Die ontdekking van hierdie lampie bring ’n verrassende gebruik daarvan aan die lig. Argeoloë het onmiddellik gesien dat hierdie lampie óf in ’n ornamentele verband gebruik is, óf funksioneel die een of ander doel gedien het.

Gedurende die tyd toe Judea onder beheer van die Romeine was, het ’n gebruik onder die Romeine bestaan om by die fondasie van belangrike geboue ’n lampie te begrawe wat vir die inwoners as ’n teken moes dien dat hulle geluk en voorspoed sou beleef. Die ontdekking van hierdie lampie is dus ’n belangrike aanduiding dat dié gebou ’n belangrike gebou was.

Die vermoede bestaan dat die gebou dalk ’n verband kon hê met die Siloampoel en as ’n waghuis gedien het om aan die stad se belangrikste waterbron beskerming te bied. Die vermoede bestaan dat die lampie met die herbouing van Jerusalem daar geplaas is gedurende die laat eerste eeu tot vroeë tweede eeu na Christus.

Soortgelyke items wat ook as gelukbringers vir geboue gebruik is, is al by verskeie geboue onder die vloer of by die fondasies daarvan gevind. Voorbeelde van hierdie lampies is al in ander dele van die ou Romeinse Ryk gekry. Hierdie is die enigste van sy soort wat nóg in Israel ontdek is.

Argeoloë is nie heeltemal seker waarvoor dié tipe lampies oorspronklik gemaak is nie. Die vermoede bestaan dat dit dalk in nissies teen die muur geplaas is, óf aan kettinkies binne geboue gehang is, óf dalk seremonieel in spesifieke rituele gebruik is.

Een van die groot raaisels van die lampie is dat dit die helfte van ’n man se gesig vertoon. Die ander helfte van die gesig is verlore. (Sien die foto hierby.) Binne die lampie wat in die fondasie van die gebou ontdek is, is nog sy lont wat uit vlas gevorm is, gekry.

Die lampie was nie van Joodse oorsprong nie. Dié waarneming is maklik om te maak. Die Jode se lampies was eenvoudig en het géén versiering gehad nie. Die Jode het getrou volgens die tweede gebod geleef, wat bepaal dat géén afbeelding van enigiets bo in die hemel, onder op die aarde, of in die water onder die aarde gemaak mag word nie (Eks 20: 4; Deut 5: 8).

Verder het die Romeine ná die Eerste Joodse Opstand in 66-73 nC geen Jood toegelaat om in Jerusalem te kom nie. Die eerste keer toe die Jode weer in Jerusalem toegelaat is, was die stadsuitleg soveel deur die Romeine verander dat die Jode geen plek of baken meer herken het nie. Die gevolg is dat die lampie wat daar by die fondasie van die gebou langs die pelgrimspad gevind is, slegs van die Romeine af kon gekom het.

Die Romeine se lampies was versier. Hulle het nie enige bepaling in hul boeke gehad dat geen uitbeelding van enige aard gemaak mag word nie. Versierde lampies het oor die hele Romeinse Ryk voorgekom.

Geskiedenis van olielampe

Die gebruik van olielampe het ’n interessante geskiedenis. Voordat lampe uit klei of metaal gevorm is, het mense eers van skulpe gebruik gemaak om as basis vir hul lampe te dien. Die olie wat uit olywe gepars is, is in die skulp gegooi. ’n Lont van vlas of linne is dan geprakseer en in dierevet of olie gelê, en aan die brand gesteek om lig te maak. In ’n stadium is visolie ook gebruik om as brandstof te dien, maar dit het nie so ’n helder lig gemaak soos olyfolie nie.

Later is houers en lampe uit klei gevorm, met olie gevul en van ’n lont voorsien om lig te maak. In ’n verdere ontwikkeling is die lampe met ’n tuit gevorm, wat meegebring het dat die lont nie so vinnig gebrand het nie. Namate lampvervaardigers slimmer geraak het, is lampe met tot soveel as vier tuite gemaak wat gelyktydig aan die brand gesteek is sodat dit ’n nog helderder lig kon maak.

Die Griekse en Romeinse lampe wat in die vierde eeu voor Christus ontwikkel is, was nóg beter en het oor ’n geslote bak beskik waarin die olie gegooi is, wat tot gevolg gehad het dat die olie nie kon mors nie. Vanuit die bakkie het die tuit gespruit, waar die lont aan die brand gesteek is.

Waarde van die lampie

Die bronslampie rekonstrueer ’n stuk van Jerusalem se geskiedenis terwyl die stad onder Romeinse beheer was – ’n stuk geskiedenis waarvan die grootste deel uitgewis of onbekend is.

Gedurende die heerskappy van die Romeinse Ryk het die Romeine ’n groot geloof in die godin van geluk, Fortune, gehad. Dié bronsolielamp is by die fondasie van vermoedelik die waghuis van die Siloampoel geplaas om geluk vir die amptenare wat daar diens gedoen het, te verseker.

’n Interessante verwikkeling is die feit dat ’n Hongaarse groep argeoloë ’n week nadat hierdie lampie ontdek is, met waarskynlik die ander helfte van die lampie na vore gekom het. Dié helfte is glo ook in dieselfde omgewing gevind. Toetse sal nou eers gedoen moet word om vas te stel of die Hongaarse vonds wél deel is van dieselfde ontdekking.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link